KOEKIES MET APPELMOES
Eksperiment suksesvol afgehandel en ek kan julle verseker, dat sou julle koekies wil bak en nie eiers het nie, julle appelmoes kan gebruik. Dit kan ook vir kolwyntjies ens. gebruik word.
Appelmoes:
Gebruik soveel appels soos verkies.
Was, sny en kook Granny Smith appels tot sag in ‘n kastrol (of bak in die oond).
Moenie die skille en pitte verwyder nie.
Sodra die appels sag is, plaas dit in ‘n voedselverwerker en “blitz” tot glad.
Druk die fyn appel deur ‘n sif en plaas eenkant om af te koel.
Vries die appelmoes in ¼ koppie hoeveelhede (65 g) vir gebruik.
- Koekies:
- 125 g strooisuiker
- 125 g margarien
- 65 ml (¼ koppie) appelmoes
- 1 teelepel vanilla geursel
- ½ teelepel sout
- 280 g koekmeel
Plaas die strooisuiker en margarien in die bak van ‘n menger en klits tot lig en romerig.
Voeg die appelmoes by en klits tot gemeng. Dit sal lyk of dit nie werk nie, maar vertrou die proses.
Voeg die vanilla, sout en meel by en meng tot dit ‘n deeg vorm.
Moenie die deeg oorwerk nie.
Verwyder die deeg uit die mengbak en draai dit toe in kleefplastiek, plaas dit in die yskas vir ongeveer 2 ure.
Rol die deeg uit tussen 2 velle waspapier, druk vormpies uit met ‘n koekiedrukker van eie keuse en plaas die koekievorms in die vrieskas vir 5 minute.
Verwyder die koekievorms uit die vrieskas en plaas dit op ‘n voorbereide bakplaat.
Bak die koekies in ‘n voorverhitte oond van 175°C vir 10 – 12 minute.
Nota:
¼ koppie appelmoes is gelykstaande aan 1 eier.
Resep en foto: Ria Posthumus