KLEWERIGE OONDGEBAKTE LAMS- OF VARKTJOPS
Resep en foto’s: Rina Kleinhans
Hierdie tjops wat in die oond gebak word, is ‘n baie eenvoudige resep wat absoluut heerlik is.
Die dikte van die tjops sal bepaal hoe lank dit sal bak tot alles lekker sag is en jou sous lekker dik en aan die tjops vassit. Selfs boudtjops sal lekker wees met hierdie resep.
- 1,2 kg lamstjops (of vark)
- 2 eetlepels bruinsuiker
- 2 eetlepels sojasous
- ½ koppie tamatiesous
- 2 eetlepels soet rissiessous
- 2 eetlepels worcestersous
- 1 teelepel gemaalde gemmer of vars gemmer gerasper
- 1 teelepel sout
- swartpeper na smaak
- 2 eetlepels asyn of appelasyn
- 2 eetlepels suurlemoensap
- Wenk: As jou tjops baie vet is, wil jy dalk die oortollige afsny. Ek hou daarvan om ‘n bietjie vet aan te los omdat dit die tjops klam hou en geur verbeter.
- Plaas die tjops in ‘n groot glasbak sodat hulle mooi plat lê, en nie opmekaar nie.
- Meng die oorblywende bestanddele saam en skep oor die tjops, maak seker die tjops is almal mooi bedek. Maak toe met kleefplastiek, en hou in die yskas vir minstens 2 ure of oornag vir die beste resultate.
- Indien jy dit oornag laat staan, draai een of twee keer om en bedek weer goed met die marinade.
- Verhit jou oond tot 160ºC. (waaier aan)
- Bedek die bak met foelie en bak dit vir 45 minute in die oond.
- Verwyder die foelie en verhoog die temperatuur tot 200ºC. Draai die tjops om, en skep weer van die sous oor die tjops. Op hierdie stadium behoort die tjops amper sag te wees, die sous sal redelik dun wees, maar dit sal verdik. Sit die tjops terug in die oond en bak vir nog ongeveer 20 – 30 minute.
- Indien die tjops nog nie lekker sag is nie. Draai die oond af na 160ºC, bedek weer met foelie, en laat die tjops lekker stadig in die sous bak tot lekker sag en die sous lekker dik.
- Indien jy die sous meer wil maak om saam met rys of kapokaartappels te bedien, haal die tjops uit, hou eenkant en verdik die sous met bietjie maizena wat in water opgelos is, of Bisto, maar die sousie self is heerlik net so.


