KAASKOEK MET BLOUBESSIE BO-LAAG
Almal het so gepraat oor die bloubessies die afgelope paar dae dat besluit ek om ‘n kaaskoek met ‘n bloubessie sousie te maak. As jy nie van die bloubessie hou nie kan jy dit vervang met kersies, aarbeie, passionfruit, raspberries. My resep is Tyler Florence s’n wat ek al ‘n hele paar jaar maak en hy is heerlik.
- Kors:
- 2 koppie fyn digestive krummels
- ½ teelepel fyn pypkaneel (kan uitgelos word, ek doen )
- 120 g botter gesmelt
- Vulsel:
- 2 x 230 g bakkies roomkaas
- 3 eiers
- 1 koppie suiker
- 2 koppie suurroom (smetana)
- 1 suurlemoen se zest
- 1 teelepel vanilla geursel
- Bo-laag:
- 2½ koppies bloubessies
- zest en sap van een suurlemoen (ek proe hoeveel suurlemoen sap ek wil byvoeg, vir my werk so ½ suurlemoen)
- 2 eetlepels suiker
Voorverhit die oond na 325°F (160º C ).
Voer die base van ‘n 24 cm los boom pan met bakpapier uit.
In ‘n aparte bak, meng die bestanddele van die kors saam.
Moenie al die botter op een slag byvoeg nie. Voeg net genoeg by sodat dit mooi klam is.
Plaas in die pan en druk vas op die basis en so 2cm teen die kant op.
Plaas in die yskas terwyl jy die vulsel maak.
In die bak van ‘n elektriese menger, klop die roomkaas op ‘n lae spoed vir 1 minuut tot glad en vry van enige klontjies.
Voeg die eiers 1 op ‘n slag by, en klits tot goed gemeng na elke byvoeging.
Voeg die suiker geleidelik by en klits tot romerig, so 1 tot 2 min.
Voeg die suurroom, lemon zest en vanilla by.
Onthou om die kant van die bak elke nou en dan af te skraap.
Plaas die koekpan op ‘n groot stuk foil en vou die kante van die foil op om teen die kante van die koekpan op te kom. (ek gebruik 2 stukke)
Plaas die pan nou in ‘n groot genoeg oondpan, want daar gaan water ingegooi word.
Giet die vulsel van die roomkaas oor die kors.
Giet kookwater in die oondpan totdat die water omtrent halfpad teen die kante van die kaaskoek pan opkom; die foelie sal voorkom dat die water insypel en die kors bederf en dan bak dit ook baie egalig.
Bak die kaaskoek vir ongeveer 45 min. Dit stol nie styf nie en daar sal nog ‘n “jiggle” wees.
Eers as dit koud is sal dit styf gestol lyk. (ek het myne al 2 x 5 min langer ingehad as dit vir my nog te los gelyk het)
Verwyder van die oond en laat afkoel in die bak water. Sodra dit koud is plaas in die yskas totdat benodig. (ek maak myne die vorige dag )
Voeg die al die bestanddele vir die bo-laag in ‘n klein potjie en prut oor medium hitte vir 5 minute of totdat die vrugte effens begin af breek. Laat eers goed afkoel voordat dit oor kaaskoek geskep word.
Foto en resep: Wilanda Räsänen