Your Recipe Blog

JOHAN SE LITCHIKONFYT

JOHAN SE LITCHIKONFYT

  • 5 kg litchies
  • 5 kg suiker ongeveer
  • 3 Golden Delishes appels
  • 2 suurlemoene se sap

Skil die doppe van die litchies af.
Vir dié resep het ek 5 kg litchies en 5 kg suiker gebruik. Geen water nie, omdat die vrug sy eie vloeistof het.
As jy 5 kg litchies moet afdop dan raak jou vingers naderhand gevoelig en seer van die growwe doppe. So weet maar van die begin af dat daar pyn is voor jy heerlik kan weglê aan heerlike konfyt.
Ontpit nou eers al die litchies.

Berei die litchies voor:
Een laag litchies en een laag suiker. (Meet byvoorbeeld ‘n laag van 4 koppies litchies af en dan ‘n laag van 4 koppies suiker bo-oor in ‘n emmer of kastrol. Wissel jou hoeveelheid af in lae.
Laat staan oornag.

Volgende oggend op die stoof met ‘n lae hitte laat die suiker en litchies stadig tot kookpunt kom.
Moenie dat mengsel op kookpunt kom voordat die suiker heeltemaal opgelos het nie, anders kan konfyt later versandsuiker.
Belangrik om te weet is dat Litchies baie laag in pektien is. So gel-staduim kan ‘n uitdaging wees met die konfyt.
Om die pektienvlak te verhoog het ek met die 5 kg litchies, 3 Golden delishes appels in klein blokkies opgesny en by die litchi en suikermengsel gekook.
Ek het óók 2 suurlemoene se sap in die mengsel uitgedruk sowel al die pitte. (Suurlemoensap help met die gel van jou konfyt en verhoed ook dat konfyt na ‘n paar maande versandsuiker).
Ek het die 2 uitgedrukte suurlemoene, skil en al by die litchies en suiker gegooi om saam sag te kook.

(Oorspronklik as jy so in die kastrol kyk en jy die appelstukke en suurlemoenskil helftes sien dink jy “yuk” dit lyk nie lekker nie. Ontspan. Die appelstukke kook fyn en verdwyn. Die skille word aan die einde uitgeskep en weggegooi)
Glo my, dié konfyt proe vreeslik lekker.
Die wit sagte spons gedeelte onder die suurlemoenskil is baie hoog in pektien. (So ook die pitte)
Die appel en die suurlemoen is om die pektien gehalte te verhoog sodat die konfyt sal gel wanneer die konfyt klaar gekook het.
Kook vir ongeveer 1 uur en 20 minute.
Die wit litchi se kleur sal mettertyd pienkerig verkleur soos die kookproses vorder.
Wanneer die konfyt so ‘n mooi “ryk glanskleur” bereik is die kookproses amper klaar. Skep enige skuim af met ‘n lepel.
Skep die suurlemoenpitte uit en gooi weg.
Druk die suurlemoenskille met ‘n gaatjieslepel teen die kant van die kastrol om al die oortollige pektien uit te druk.
Haal skille uit en gooi weg. Roer goed deur.
Die appel is ook nou sag gekook.

Neem ‘n gaatjieslepel en druk die sagte appel, pap teen die kant van die kastrol. Meng goed in.
Koel ‘n klein bordjie af in die yskas vir so 10 min.
Skep so twee teelepels warm konfyt op die bordjie en laat staan vir 10 minute.
Trek jou vinger in die middel van die konfytkol deur.
As die konfyt òf ‘n skilletjie vorm wat opfrommel as jy jou vinger deurtrek, of die konfyt behou die getrekte vingerspasie vir ‘n rukkie na jy getrek het, dan is die gel staduim bereik en kan jy stoof afsit.

Laat die konfyt nou in die kastrol “rus” (laat dit net so staan sonder om te roer) vir so 10 minute voor jy begin bottel.
Die rede vir die stap is om te verhoed dat die litchi stukke en die stroop skei as jy die konfyt bottel.
Wat ek daarmee bedoel is dat die litchi stukkies dryf opwaarts en stroop bly onder voor die konfyt gel. Hulle skei dus. Dít wil jy verhoed.
Na 10 minute kan jy warm begin bottel.
Vul jou bottels tot so 1cm van bo af.

Nota oor bottel voorbereiding:
Om jou bottels te steriliseer, was jy die bottels in warm seepwater.
Spoel dan goed af met skoon water.
Plaas jou bottels in die oond en op hitte van 160 ºC vir 30 minute.
Die bottels is nou gesteriliseer en jy kan bottel. Hulle is egter warm so wees versigtig met hantering.

Ek smelt altyd kerswas en seël die konfyt daarmee.
Dit is nie nodig nie. Maar dit is hoe ek verkies om dit te doen.
Die konfyt is nou reg om in die spens vir langer as 2 jaar te staan sonder om ‘n muflagie te vorm of te bederf. Onthou – sou daar ‘n muflagie oor ‘n periode vorm, al wat jy doen is skep daardie muflagie af en eet die res. Daar is niks fout met die konfyt nie.
Litchi konfyt het ‘n besonderse smaak en jy proe die vrug onmiddelik as jy daarvan eet….
Geniet die besonderse resep.

Resep : Johan Maritz‎
Foto: Natacha Visagie – Tonne dankies vir die resep!
Hierdie ene sal ek weer maak. Dis baie werk maar soooooo die moeite werd.
Ek het ‘n paar stukke ster anys bygevoeg vir ekstra smaak💜

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page