Your Recipe Blog

JAPIE SE ONTHOU SJOKOLADE KOEK

Avatar photo
Recipe by
Cook: 30 - 40 minute

JAPIE SE ONTHOU SJOKOLADE KOEK

My ma en haar susters het ongelooflike resepte gedeel, een van hulle was hierdie sjokolade koek.
Die eer vir die resep gaan aan Gerrie Jacobs, my ma, en dan my niggie wat seker gemaak het ek het die resep, Corrie Myburgh jy is ‘n doring!! My ma het die resep met Corrie se ma, Tannie Pop gedeel. Ek het dieselfde resep gevind in ‘n ou kookboek van my ma en in my pa se handskrif, Koos Jacobs, so spesiaal as jy in New Zealand in lockdown ‘n koek moet bak vir jou seuntjie wat 7 geword het Dit is baie lekker om tradisies voort te sit al is dit oor die water. Hierdie resep het vir baie van my verjaardag koeke gesorg as kind en ‘n seuntjie se hart bly gemaak, asook sy boeties!

  • Koekbeslag:
  • 125 g botter/margarien
  • 1 koppie melk
  • 2 koppies koekmeel
  • 3 eiers
  • ½ koppie kakao
  • 1 ½ koppie suiker
  • 3 teelepels bakpoeier
  • 1 teelepel vanilla essence
  • ½ teelepel sout

Versiersuiker:
Enige versiersel van jou keuse, ek het ‘n standaard botterroom versiersuiker gemaak met botter, versiersuiker, kakao en ‘n bietjie melk.

Sit jou oond aan by 200°C tot warm en draai dit af na 190°C sodra dit hitte bereik.
Plaas 1/3 koppie melk in ‘n mengbak, en roer die kakao by tot glad. Voeg dan die botter/margarien en suiker geleidelik by en roer tot lig en donserig. Voeg die ongeklitste eiers een vir een by en meng met ‘n klitser elke keer sodra ‘n eier begevoeg is. Voeg die geursel by.
In ‘n aparte houer, sif die meel, bakpoeier en sout saam. Voeg dan die meelmengsel by die nat bestanddele geleidelik en klits deeglik. Voeg die beslag in twee standaard koekpanne en bak vir minstens 30 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.
Myne het vir 40 minute gebak.
Laat dan die koeke afkoel voordat jy dit uit die koekpanne uithaal.
Laat deeglik afkoel tot by kamertemperatuur voordat jy dit versier.

Resep en foto:  Japie Jacobs

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page