INGELEGDE GROENBOONTJIES SONDER ASYN
“Volgens die kenners moet groenbone eintlik net met ‘n canner ingelê word as jy nie asyn bywerk nie. Maar hier is hoe ek dit doen – op eie risiko.”
- groenbone, hoeveelheid volgens die kollektiewe volume van die aantal leë flesse
- leë glasflesse wat kan seël (ek gebruik mayonnaise flesse)
- ¼ teelepel sout per fles
- ⅜ teelepel sitroensuur per fles
Die hoeveelheid bone word bepaal deur een fles met rou bone te vul en dan die inhoud van die fles te weeg.
Sny die bone soos verlang en blanseer dit vir vyf minute in kokende water. Die vyf minte word gemeet vandat die water weer begin kook het nadat die boontjies gedompel is.
Skep die bone uit in skoon, gesteriliseerde flesse en voeg die sout en sitroensuur by elke fles.
Vul die flesse tot 12 mm van bo af met bone en van die blanseerwater. Skud die flesse so ‘n bietjie sodat die bone beter langs mekaar inpas. Maak seker daar geen lugblasies is nie en dat die borante van die flesse skoon is en toegedraai tot vingerstyf en nie Piet Spiere nie.
Kook die flesse vir 3½ uur in ‘n waterbad (indien jy in die binneland bly, moet jy die tyd meer maak). Die flesse MOET heeltyd toe wees en onder water wees (ek gebruik my outydse groot konfytpot vir ‘n waterbad). Die begin temperatuur van die water in die bad moet omtrent dieselfde wees as wat die gevulde flesse is om krake in die glas te verhoed. Ek begin gewoonlik die waterbad voorbereiding vir die flesse met kwartvol met kookwater net voor ek die gevuld flesse in die kookwater wil plaas.
Voeg water by die waterbad om die korrekte tempreatuur te bereik voor die flesse gedomprl word. Flesse moet nie styf ingepak word nie, anders kan die water nie orals in die bad sirkuleer nie. Wanneer die flesse ingepak is, vul die waterbad tot bo.
Begin die tyd meet wanneer die water ‘n rollende kookpunt bereik. Hou die waterbad dop en maak seker dat die flesse se deksels altyd toe bly met bedek met tot bo-oor die deksels.
Wanneer die kooktyd verby is, draai die plaat af en verwyder die pot (waterbad) se deksel. Laat staan vir 10 – 15 minute sodat die druk in die flesse kan stabiliseer.
Haal die flesse versigtig uit uit en maak seker dat die deksels styf toe is.
Plaas die flesse op ’n plek waar dit vir 24 uur kan staan.
Ek pak die flesse vingerbreedtes uit mekaar en bedek met ‘n handdoek. Dit help dat die flesse egalig afkoel.
Wees maar paraat wanneer die boontjiess gebruik word. Enige flesse wat nie geseël is of deksels opgeblaas is of “oorkook” moet nie gebruik word nie.
Resep en foto: Susan Wessels