Your Recipe Blog

IDEES VIR TUISGEMAAKTE ROOMSAMPIOENE

IDEES VIR TUISGEMAAKTE ROOMSAMPIOENE

Francis Schoeman:
Ek het ‘n heerlike vinnige resep, wat manlief ook soms maak, maar dit kry ‘n blik geroomde sampioene in.
Ons plaaslike winkels hou dit nie aan nie. Wonder of die slim lede wenke het om roomsampioene te maak?

Lindie Van Wyngaardt:
1 pakkie sampioene, 1 ui fyn gesny, knoffel na smaak, sout en peper na smaak, 1 pakkie wit uie- of sampioensoppoeier, 1 botteltjie room en bietjie melk as dit te dik is. Braai die uie en knoffel en wanneer amper bruin is, voeg die sampioen by en braai tot gaar. Meng die soppoeier met die room en voeg dit by die sampioenmengsel in die pan. Roer en voeg sout en peper by soos verkies. Baie Lekker.

Tersia Loggenberg:
Ek gebruik 1 pakkie sampioensoppoeier en vars sampioene gekerf met knoffel en ui fyn gesny.

Louise Groenewald:
Ja jy kan dit self maak. Ek dink die wat jy maak is baie lekkerder. Jy gebruik gesnyde sampioene, sampioensoppoeier (ek hou van Knorr) en melk. Maak dit net lekker dik. Jy kan room ook byvoeg.

Fredrika Scholtz:
Ek braai vars of gevriesde sampioene en fyn knoffel saam, voeg ‘n pakkie sampioensoppoeier by wat gemeng is met melk, wanneer dit te dik is, voeg nog melk by, ek voeg soms kaas ook in. Dis ‘n lekker dik sous. Altyd ‘n wenner.

Dricus Bosman:
Braai uie en knoffel in botter. Snipper bruin sampioene (ek hou van die geurigheid van portobello maar as jy wit knopie sampioene wil gebruik, kan jy) en voeg dit by die uiemengsel. Wanneer die sampioene sag gebraai is voeg ‘n blikkie volroom room by met ‘n skeut Sjerrie. Moenie vinnig laat kook nie. Maak 1 pakkie bruin uiesoppoeier aan en roer by, roer tot lekker dik en gaar. Maal vars swartpeper oor, bietjie sout, want soppoeier doen daai klaar. Kap ‘n handvol “flat leaf” pietersielie fyn en roer by die sous. Maak genoeg. Dit lei tot die groot-vreet.

Santa van Rooyen:
Dricus Bosman, ipv room, gebruik ek roomkaas! Probeer, dit is ‘n wenner.

Jacoba Du Plessis:
Rasper 1 pakkie knopiesampioene en sny nog 1 pakkie knopiesampioene op. Braai die gesnyde sampioene in botter. Wanneer dit gaar is, voeg ‘n glasie room by en speserye van keuse. Voeg die gerasperde sampioene by en laat die mengsel prut vir 5 min. Verdik die room met bietjie ekstra melk en koekmeel aangemaak. Indien jy minder sous wil hê, gebruik net 1 pakkie heel sampioene en sny 1 helfte op en rasper die ander helfte.

Lenté Joubert:
Ons plaaslike supermark verkoop gevriesde 1 kg gevriesde sampioene. Dit is donkerder as Denny sampioene en het baie meer geur. Moenie die gevriesde sampioene ontdooi en afwater nie, die vog gee baie geur en kleur aan die sous. Braai opgekapte uie en die gevriesde sampioene in olyfolie en ‘n klein bietjie fyn knoffel (ek hou van die een met gemmer gemeng). Terwyl die sampioene braai, sny ek die groot stukke sampioene sommer so in die pan kleiner met ‘n mes. Voeg ‘n halwe hoenderekstrak blokkie by. Meng ‘n ½ pakkie van elk bruin uiesoppoeier en hoender roomsoppoeier saam en voeg melk by tot dit glad is. Voeg die sop by die uie en sampioene en roer deurentyd met ‘n houtlepel op lae hitte tot dik. Voeg nog melk by indien die sous te dik is. Ek roer ‘n bietjie brandewyn aan die einde deur die sous en draai die hitte af. Laat staan die sous ‘n paar minute sodat die geure trou. En siedaar, lekker romerige, geurige sampioenous. Werk lekker by ‘n rolletjie met ‘n hoender pattie op of steak en die sousie werk ook mooi saam. Room is duur, hierdie proe net so lekker. Ek gebruik volroommelk en nie lae vet melk nie. Gooi hierdie sous oor en jy eet jou vingers af.

Lilly Bester:
Braai baie uie in botter. Voeg gesnyde sampioene (los sommiges heel vir tekstuur) by en roerbraai saam met die uie. Voeg room by en soteer. Voeg sout en baie swartpeper by, geniet. Indien bietjie te loperig verdik met bietjie meel. Dis maklik en heerlik.

Esré Els:
Ek braai uie en sampioene in baie botter, voeg meel by soos vir wanneer jy ‘n witsous sal maak. Meng room en bietjie melk vir die vloeistof en voeg dit stadig by die sampioenmengsel. Roer tot die sous lekker romerig en glad is. Voeg sout en peper by na smaak. Ek hou nie van die soppoeier smaak nie, daarom maak ek my sous met meel.

Juanita Scheepers:
Braai sampioene, uie en speserye na smaak, voeg ‘n houer room in (ek gebruik soms suurroom). Voeg sampioensoppoeier by tot die sous die dikte is wat jy verkies. Die is maar net wat ek maak, dis nie ‘n 100% regte Jakob of so nie, maar dit werk.

Tosca de Villiers:
Juanita Scheepers, ‘n paar druppels sojasous maak ‘n groot verskil aan smaak.

Skakel na resep op foto: https://yourrecipeblog.com/recipes/kitis-best-mushroom-sauce/
Foto: Kiti de Jager

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page