Your Recipe Blog

IDEES MET SKAAPBOUDTJOPS

IDEES MET SKAAPBOUDTJOPS

Karen Hugo:
Ek wil skaapboudtjops gaarmaak, maar wil dit nie oor die kole braai nie, kan soms bietjie droog wees.
Kan iemand my ‘n idee of resep gee hoe om die tjops lekker sag en sappig gaar te maak.
In die oond of pot of prutpot?
Baie dankie by voorbaat.

Adri Venter:
Ek braai myne op die stoof. Klein bietjie speserye, sout en suurlemoen wat ek bo-oor uitdruk.

Elsie Swart Muller:
Baksakkie in die oond.

Pieter Swanepoel:
Koop sosatiesous van jou keuse. Marineer die tjops in die sous in yskas vir sò ‘n paar dae. As jy die tjops in die sous kan vakuum verpak, nog beter.

Lorett Brittnell:
Al wat vir boudtjops op kole werk, is om dit te geur met speserye soos gewoonlik. Plaas in ‘n toeknyprooster op ‘n rookwarm vuur en braai blitsvinnig, dan kry dit kleur buite maar is heerlik sappig binne wanneer dit gerus het, terwyl jy die res van jou braaigoed klaarmaak.

Chantal Van Aardt:
Skaapboudtjops oor die kole, teen hoë hitte. Verwyder van die hitte as die tjops medium/medium rou is. Voeg growwe seesout en vars suurlemoensap oor die tjops terwyl dit op die kole is. Baie lekker. Indien jy die opsie het, kan jy selfs n roosmaryntakkie op elke tjoppie sit.

Sandra Du Plessis Davis:
Pak die tjops in lae met gebraaide uie, tamatiesous, blatjang, sampioene en dun skyfies aartappel. Bak teen 140°C vir ongeveer 3 tot 4 ure. Kan groente bo-op pak na 2 ure. Geur met speserye na smaak.

Cliffie Corneluis:
Ek meng ‘n pakkie soppoeier, water, tamatiesous, blatjang en soetrissiesous. Braai uie, sampioene en groen soetrissie tot sag in ‘n pan met bietjie olie. Plaas in lae in ‘n oondbak gaar macaroni, sous, gebraaide uiemengsel en dan tjops, weer sous, uiemengsel en weer macaroni, sous en uiemengsel en eindig met kaas bo-oor. Bedek die gereg met ‘n deksel of foelie en bak vir ongeveer 2 ure in ‘n matige oond.

Hannatjie Roets:
Meng Coke, bruin uiesoppoeier, tamatiesous en blatjang. Bak die tjops in die sous. Baie lekker.

Leoni Le Roux:
Ek maak kerrie van die boudtjops! Of pak die tjops in foelie, langs mekaar met knoffel, speserye en roosmaryn tussenin. Vou die foelie toe en bak die tjops in die oond. So lekker soos skaapboud!

Vanessa Smith:
Meng sout, peper, Mayonnaise en Worcestersous. Giet die sous oor die tjops in ‘n oondbak en rooster in die oond op hoë hitte.

Kobus Conradie:
Die tjops braai te droog wanneer dit te veel gedraai word. Op warm kole, laat braai die tjops op een kant tot dit begin bruin en water/bloed bo deurstoot. Draai die tjops om en braai tot bruin.

Hanlie Terre Blanche:
Ek maak dit gaar soos schnitzels.

Sarona Coetzee:
‘n Tannie wat ek geken het, het skaaptjops in lae gepak in ‘n bak, om die beurt met gesnyde uie en kerriepoeier tussen die lae vleis. Die tjops laat marineer vir ‘n dag of 2 in die yskas.

Katie Du Toit:
Ek marineer die skaapboudtjops in ‘n sosatiesous oornag in die yskas in ‘n tupper marinadebak. Braai dit dan oor kole! Heerlik sag!

Rita van der Westhuizen:
Ek geur die tjops met speserye en rol dit in bruismeel. Voeg bietjie olie in ‘n oondpan, pak die tjops in die pan, sny uie in skyfies en plaas dit bo-op die tjops. Bedek die tjops met foelie en bak in ‘n warm oond totdat dit gaar is. Dit kom heerlik sag uit.

Poerie Neethling:
Gebruik ‘n Argillabak. Geur die tjops na smaak en bak op lae hitte teen 140ºC in die oond tot gaar. Moenie vloeistof byvoeg nie. 2-3 ure behoort genoeg te wees. Murgsag en bruin gebraai.

Kleintjie Schlebusch:
Kap die tjops met ‘n vleishammer aan albei kante, sprinkel speserye oor die tjops na smaak, rol die tjops in meel en bak in olie in ‘n pan, heerlik!

Eunanza Farrell:
Ek maak die tjops gaar in die oond. Smeer albei kante van die tjops met olie en speserye. Plaas in ‘n oondbak en rooster in die oond teen 180ºC. Draai die tjops halfpad gedurende die bakproses. 10 min voor die einde, sprinkel ek suurlemoensap oor. Heelik sag.

Michelle Thomas:
My ouma het die boudtjops altyd die aand vantevore gegeur met speserye, die tjops gekap en oornag in die yskas geplaas. Sy het dit die volgende dag in meel, dan in eier gedoop en in ‘n pan met olie gebak. Heerlik sag en sappig.

Nico Esterhuyse:
Saag die tjops ten minste ‘n duim dik en braai dit soos steak. Dan het jy lam-steaks.

Jaco Christiaan Crisis Rossouw:
Nie nog nodig vir allerhande souse en marinades nie. Braai die tjop soos ‘n steak met sout, peper en suurlemoensap (opsioneel) oor warm kole tot medium rou.

Wilma Van Wyk:
Sout en peper die vleis, pak in ‘n bak en maak ‘n lekker kaas, peper en sampioensous. Giet die sous oor die vleis en bak vir 30 – 45 min in ‘n warm oond met foelie oor. Heerlik.

Leticia Mostert:
Jimmy sous. Bak in oond. Heerlik

Marlene Potgieter:
‘n Vriend van my, geur sy boudtjops na smaak, draai dit toe in foelie en plaas dit op die kole. Die tyd op die kole, is afhangende van hoe groot die boudtjops is. Wanneer die tjoppies gaar is soos wat jy verkies, verwyder hy die foelie en gee dit net gou ‘n bietjie kleur op die kole en dan is dit lekker sappig, of jy kan dit net so met ‘n bruinsous bedien.

Natacha Visagie:
Ek het rooi uie in skywe gesny en in my oondvaste bak gepak wat met olyfolie gesmeer is.
Plaas aartappelskywe met sout en peper op die uie en sprinkle olyfolie oor die aartappels.
Ek het ‘n “rub” gemaak (soos ‘n “paste”) met fyn gekapte roosmaryn, lams speserye, olyf- en roosmaryn speserye en olyfolie. Smeer die pasta oor die boudtjops. Ek het nie sout oor die tjops gestrooi nie, omdat die “rub” redelik sterk is. Strooi fyngekapte “Peppadew” (“mild”) en gerasperde skil van 1 suurlemoen oor die tjops.
Bak die tjops vir 1 uur in die oond teen 180ºC.
Vleis is so sag en met elke happie proe jy ietsie anders. Die “Peppadews” en suurlemoenskil is fantasties in die dis.

Foto: Natacha Visagie

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page