Your Recipe Blog

HUNKY CHUNKY MUESLI BESKUIT

HUNKY CHUNKY MUESLI BESKUIT

My lieflike Hunky Chunky Muesli Beskuit

  • 1 kg bruismeel
  • 5 ml sout
  • 500 g botter
  • 400 g suiker
    (Ek gebruik heelwat minder 2/3 hiervan en vir ‘n smaak variasie gebruik ek soms ‘n gedeelte bruin suiker)
  • 500 ml karringmelk
    (Ek gebruik bietjie meer, want ek voeg ‘n koppie klapper ekstra by en soms ander lekker bestanddele – so ek gebruik tussen 600 – 900 ml, ek voeg sommer melk in die karringmelk boksie en skud die outjie om die laaste vog wat ek nodig het op te maak)
  • 2 eiers
  • 4 koppies Meusli
  • Opsioneel:
  • Ek voeg ‘n koppie klapper by en ½ koppie LSA meel – Linseed, Sunflower and Almond

Oond 180°C of 160°C as dit ‘n waaier het.
Smeer of voer broodpanne met waspapier. (Ek gebruik ‘n oondpan)
Vryf  botter in meel in of pols in voedselverwerker tot krummelrig.
Plaas  botter, meel krummels en al die ander droë bestanddele in ‘n mengbak/skottel.
Klits eiers en karringmelk saam.
Voeg by  droë bestanddele en bring  mengsel saam tot dit ‘n deeg vorm.
Plaas in panne.

Nota:
Ek maak die rante met tinvoelie toe sodat dit nie te donker word nie – en haal dit na 2/3 van die tyd verby is af sodat die kante en hoekies teen die selfde tyd bruin word.

Bak vir plus minus ‘n uur (my oond bak bietjie langer, so uur en 10 min) – toets met ‘n toets pen vir gaar.
Koel  gebak af voor jy dit sny – ek draai myne in kleefplastiek toe en sit dit na afgekoel in die vrieskas vir ‘n uur of twee dan sny beskuit baie mooi.
Ek droog my beskuit vir twee dae in ‘n dihidreerder uit, maar jy kan ook oornag in die oond teen 70°C.
(Die resep se 120ºC of 100°C in ‘n waaier oond, maar dan word my beskuit te donker)|

Notas:
Vir die Dames in Australie (Daar is nogals ‘n paar van ons hierdie kant) is die resep nog makliker as jy ALDI se produkte gebruik dit is net die regte hoeveelhede verpak – ‘n pak Meusli, ‘n blok botter en ‘n vol houertjie karringmelk. Jy kan ook LSA meel daar koop, klaar gemeng.

En as jy iemand het wat allergies is vir neute, maak seker die Meusli het nie neute in nie en los die LSA mengsel uit.

Jy kan die resep verander soos dit jou pas, voeg ekstra neute, gedroogte vrugte soos bosbessies en varieer die tipe en hoeveelheid suiker na smaak. Ek het nog nie die resep probeer met ‘n suiker plaasvervanger soos xylitol wat 1:1 is nie. Tot op hede het ek nog net die suiker verminder met groot sukses. Jy kan die resep ook halfveer.

Notas:
Die resep is ongelooflik maklik en vinnig om voor te berei. Ek gebruik my voedsel verwerker om die botter in die deeg in te pols tot krummelrig – Dit neem 5 sekonders as dit so lank is, en dan gooi jy al die droë bestanddele saam, klits gou die eiers en karringmelk en gooi dit oor die droë bestanddele – ek bring die deeg bymekaar met voedsel graad handskoene aan omdat dit so vinnig is om jou hande weer skoon te kry voor jy die baksel in die oond sit. Onthou om die beskuit af te koel voor jy dit sny – ek koel myne af, draai dit dan met glad wrap toe en sit in die vrieskas vir ‘n uur of twee – dan sny dit so mooi soos in die foto.

Foto 2:
Dis omtrent hoe nat die deeg behoort te wees jy kan ‘n titseltjie natter gaan, maar definitief nie droër nie. Dit hang natuurlik af hoeveel goed jy ekstra in jou beskuit voeg, so 100 ml by op ‘n slag tot jou deeg nat genoeg is. Ek knie, eintlik net bring die bestandele saam tot ‘n deeg, met kos maak handskoene aan. Dis net vinniger as om my hande weer te was na die knie dan kan ek die baksel gouer in die oond kry en die deeg bly waar dit hoort – in die pan of in die handskoen wat ek weggooi. Die is my knie skotteltjie – perfek vir beskuit. Dis reghoekig so die outjie pas perfek in my opwasbak as ek opwas na die tyd.

Waspapier onder in ‘n pan kan ‘n glipperige besigheid wees as jou deeg swaar is – ek knip myne met wasgoedpennetjies vas.

Net ‘n nota oor suiker: hoe donkerder die suikers wat jy gebruik en hoe meer suiker die gebak bevat hoe vinniger word die beskuit bruin en as jy ‘n swaar donker pan gebruik kan jy opeindig met ‘n baksel wat te donker is voordat dit gaar is.

Sit dood eenvoudig jou oond net nog 10/15 grade laer en bak langer, dubbel voer jou waspapier om mee te begin. Hou ‘n oog uit, as dit lyk of jou baksel te gou verbruin, draai dadelik jou stoof laer en sit tinfoelie oor die bokant – dit mag dalk nie jou onderkant red nie, maar jy kan jou baksel dalk nog red deur die kante af te sny, nadat jy dit verkoel het. Buiten as dit gebrand het, dan smaak alles na brand – gooi maar jou baksel uit en begin van voor af.
(Sterkte – ek gebruik nie meer die volle hoeveelheid suiker in die baksel nie, so ek het al vergeet van die suiker wat te donker kan bak)

As jy die deeg in die hoekies in gedruk het dan is die pennetjies nie meer nodig nie. Net ‘n nota oor panne – hoe donkerder hoe meer hitte absorbeer jou pan, wat tot gevolg kan hê dat jou rante en onderkante te donker kan word. Oorweeg om jou beskuit in aluminium vierkantige koekpanne te bak as jy van meer suiker in jou beskuit hou. Panne met regaf kante en 90 grade hoeke sny ook mooier.

Foto 3:
Hier is my tinfoelie randjies wat gaan voorkom dat die kante te donker word voor die res verkleur het bo-op die beskuit. Die foelie is nie teen die deeg nie maar ‘n paar cm bokant die deeg. Nou word die outjie in die oond gesit en bak 45/50 min dan loer ek na die kleur, as die middel lig tot medium bruin is dan haal ek die foelie af.

Foto 4:
Die onderste baksel is nou net uit die oond en die boonste ene het al afgekoel.

  1. Die boonste baksel was bietjie droër as die onderste een. (Sien die skerper hoekies onder) Maar dis nie ‘n trein ongeluk nie – die hoekies gaan nie so mooi lyk as dit gesny is nie, maar dis al.
  2. Die boonste baksel het ook minder suiker. In die onderste een is daar meer en die helfte is ‘n donker suiker – ek moes die oond temperatuur afstel om te voorkom dat die beskuit te donker word.
  3. Ek sou nie die onderste beskuit enigsins donkerder maak as dit nie.

Resep geplaas deur Tani Ras-Devereux
Foto: Tani Ras-Devereux

Category:

2 Reviews

  1. Kitty

    Stien, baie dankie vir die resep asook vir al jou nuttige wenke. Sal dit toepas. Lyk my jy is n gesoute bakster.

    Star
    • Kitty, dankie vir jou kommentaar, maar die resep behoort aan Tani Ras-Devereux as jy onder aan die resep kyk. Stien het dit net vir ons vasgele op ons website. Geniet die resep en kom vertel asb?

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page