HOENDERKAASKOEK MET SAMPIOENSOUS
- Kors:
- ½ pakkie Cream Cracker-beskuitjies, fyn gekrummel
- 90 g (100 ml) botter, gesmelt
- 2 ml droë gemengde kruie
- Vulsel:
- 30 ml botter
- 1 ui, fyngekap
- 30 ml koekmeel
- 190 ml hoenderaftreksel
- 190 ml Cheddarkaas, gerasper
- 5 ml mosterdpoeier
- sout en vars gemaalde swartpeper
- 1 houer (250 g) krummelmaaskaas
- 3 eiers, geskei
- 80 ml room
- 500 ml gaar hoendervleis, in blokkies gesny (vel en bene verwyder)
- Bolaag:
- 30 ml botter
- 250 g vars sampioene, skyfies gesny
- 200 – 250 ml room
- 100 g (250 ml) Cheddarkaas, gerasper
- vars pietersielie, fyn gekap
Kors:
Voorverhit oond tot 180ºC en smeer ‘n 20 cm losboompan. Ek bak in die waaier oond teen 160ºC.
Meng beskuitjiekrummels, botter en kruie vir kors deeglik saam. Druk vas op die boom van die pan.
Verkoel tot benodig.
Vulsel:
Smelt botter en soteer ui tot sag. Voeg meel by en braai 2 minute.
Voeg aftreksel geleidelik by en kook tot dik en glad. Voeg kaas, mosterd, sout en peper by.
Klop maaskaas, eiergele en room saam en voeg by kaassous. Voeg hoender by en meng goed.
Klits eierwitte styf en vou by die mengsel in. Skep vulsel in die kors en bak sowat 45 – 60 minute tot gaar en gestol.
Laat afkoel en keer uit op ‘n opdienbord.
Bolaag:
Smelt botter en soteer sampioene tot sag.
Voeg room en kaas by en verhit oor lae hitte tot kaas gesmelt is – die mengsel moenie kook nie!
Skep oor “koek”, sprinkel vars pietersielie oor en bedien warm of koud.
Resep geplaas deur Louise Groenewald
Hoof foto: Martha Coetzee
2de foto: Adam Cloete
3de foto: Yvette Dolphin – ek het die volgende kors gebruik saam met die res van die resep.
- Kors:
- 150 g koekmeel
- 5ml sout
- 100g sagte botter
- 5 ml gemende kruie
- 1 eetlepel peri peri poeier
Meng al die bestanddele goed saam met vingerpunte tot ‘n deeg vorm en druk vas onder in bak.
Dit klink heerlik!Gaan beslis probeer.