HEEL MAKATAANSTUKKE
Ek het my makataanstukke gemaak asook die sagte dele gebruik en saam met pynappel konfyt gemaak! Dankie vir paar van julle resepte, wat ek bietjie rondgeskommel het soos ek goedgedink het! Het perfek gekom! Hier is my resep:
- 1 makataan (ongeveer 4 kg)
- 1 liter water : 1 kg makataanstukke
- 13 mg kalk : 1 liter water
- 1 kg suiker : 1 kg makataanstukke
- 2 suurlemoene, sap uitgedruk
- ¾ eetlepel sout : 4 kg makataanstukke
- 1 groot heel stuk gemmer
Sny die makataan in plat ringe, dikte volgens eie keuse. Sny nou sagte binneste dele uit sodat slegs dik harde wit buitekant oor is. Skil buitenste harde groen skil dun af. Sny afgeskilde ringe in blokkies. Prik blokkies aan alle kante deeglik met ‘n vurk.
Vul ‘n emmer met 5 liter water en roer die kalk goed deur. Plaas geprikte stukke in die opgeloste kalkwater en week oornag. Haal die stukke die volgende oggend uit die kalkwater en spoel die emmer goed uit met skoon water. Plaas stukke weer in emmer en spoel die stukke baie deeglik met koue water af. Maak seker alle kalk is afgespoel, dit is baie belangrik.
Hou die stukke in skoon water en plaas ‘n pot op die stoof met 1 liter water : 1 kg makataanstukke. Verhit die stukke in die water en kook die stukke vir 2 minute nadat water begin borrel het. Verwyder van die hitte af, haal stukke uit die water en hou eenkant.
Gebruik dieselfde water waarin stukke gekook het en maak seker daar is 1 liter kookwater : 1 kg stukke is. Voeg nou die gemmer wat in skyfies gesny is, of gekneus is met ‘n vleishamertjie by die water. Die gekneusde gemmer word verwyder nadat die kookproses voltooi is.
Voeg ook die suurlemoensap en die sout by. Roer die suiker by die watermengsel in die verhouding 1 kg suiker : 1 kg makataanstukke Roer dit vir ‘n rukkie tot die suikerstroop kook. Sodra stroop begin borrel, plaas die stukke een vir een in die kokende mengsel – stroopplossing moet aanhoudend kook terwyl die stukke in die stroop geplaas word.
Kook dit vir ‘n paar ure totdat dit deurgekook en die stukke deurskynend is. Druk gereeld die boonste stukke dieper in die kokende stroop sodat dit ook genoeg kokende stroop kry. Wanneer die stukke en stroop ‘n kwart van die oorspronklike volume weggekook het, toets die stroop op ‘n koue piering, verwyder dit van die hitte en bottel so warm moontlik in voorbereide flesse met deksels.
Resep en foto’s: Hendri Le Roux