GROOTMAAT BOONTJIESOP
“Ek het twee groot 25 liter kastrolle gebruik. Maak ± 30 liter dik bonesop.” Lappiesboontjies kan ook gebruik word.
- 2 × 2 kg pakke spikkelbone (soek boontjies uit vir slegte bone)
- water
- 3 kg varkskenkels
- 14 mediumgrootte aartappels
- 12 wortels
- In twee aparte bakkies, voeg by in elk:
- 2 lam- en groente soppoeier
- 1 beesstert soppoeier
- 4 hoogvol teelepels Aromat
- 3 teelepels peper
- 3 gelykvol teelepels sout
- 3 teelepels braaispeserye
- ½ koppie Worcestershiresous
Was bone goed af en gooi in groot skottels en laat oornag staan met water wat bone bedek.
Volgende dag spoel bone weer af en plaas in twee groot kastrolle albei met agt liter water in.
Voeg 1½ kg varkskenkels in elke pot by, laat kook bone en vleis tot amper sag. Skep van bone uit en druk fyn (so om en by helfte van bone). Haal vleis uit en sny kleiner (van albei kastrole).
Skil en rasper vir elke kastrol sewe aartappels (medium) en ses wortels, gerasper op fynkant van rasper.
Kook in aparte mikrogolfbestande bakke en vul bakke met water gelyk met groente; mikrogolf vir 20 minute met plastieksakke oor.
Voeg dan die groente by die bone en voeg nou nog so ongeveer agt liter water by elke kastrol, en kook deur. Stel plate op stadig.
Maak gladde pasta van die soppoeiers, speserye en Worcestershiresous en voeg by bone.
Kook verder goed tot sop lekker dik is, op stadige hitte.
Resep en foto: Alta Gunter Van Dyk