Your Recipe Blog

GROENTEKERRIE

GROENTEKERRIE

‘n Heerlike laevet en vegetaries/veganistiese opsie vir die vroegherfs en sy koel Kaapse middae. Kry goeie kerriepoeier: Ek gebruik ‘n voorafgemengde kerrie wat ek by rondgaande Hindoe-dames in Stellenbosch op straat gekoop het. Andersins sal jou gewone Rajah-poeiers ook werk!

Bedien met geelrys, platbrode (naan, roti of salomies) en Turkse/Bulgaarse/Griekse wit jogurt om die brand te beheer, asook ‘n yskoue Windhoek Draught.

Garneer met vars koljanderblare (dhania).

  • 10 klein aartappelmoere (‘spuds’), gehalveer
  • 1 groot ui, in dik ringe gesny
  • 4 huisies knoffel
  • 1 rou mielie, die pitte afgeskraap
  • 1 blikkie kekerertjies (‘chickpeas’)
  • 5 eetlepels chakalaka-sous (uit blikkie)
  • 1 koppie soet, gematigde blatjang
  • 2 eetlepels garam masala
  • 1 eetlepel borrie
  • 1 eetlepel koljander
  • 1 eetlepel rooipeper (wees behoedsaam hiermee, dit brand soos hellevuur)
  • 3 lourierblare
  • sout en swartpeper na smaak
  • sonneblom-olie en ‘n groot eetlepel botter of ghee

Verhit die olie en botter ‘n dikboom-pan tot dit begin borrel. Sit al die kerriepoeiers by. Meng deur en giet nog ‘n skeut sonneblom-olie by.
Die kerriepoeier gaan begin borrel en swart verkleur: Moenie skrik nie! Dit brand nie aan nie, dit is ‘n teken dat die kerrie sy geure begin loslaat.
Wanneer die kerrie verkleur het, voeg jy die uie-ringe en geparsde knoffel by. Meng deur die dik kerrie beslag en laat braai tot sag.

Voeg die gedreineerde kekeretjies, rou mieliepitte en gehalveerde aartappelmoere by, met die chakalaka. Giet bietjie water by as jy bang is die mengsel brand aan.
Voeg lourierblare ook by, meng deur en plaas deksel op pan.

Laat prut stadig vir so 10 minute.
Proe die kerrie. As dit te warm is, voeg meer blatjang by as wat voorgeskryf is.
Bly andersins by 1 koppie.
Laat die kerrie vir ‘n halfuur stadig prut en geur met sout en peper.
Verwyder na ‘n halfuur van die plaat en laat met deksel op afkoel vir so 10 minute.

Bedien met perske slaai.
https://yourrecipeblog.com/recipes/perske-slaai/

Resep en foto: Frederik Rudolph van Dyk

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page