GIDEON SE VARKSTERTJIES IN DIE OOND GEBAK
My magie nou bolrond gepomp met ‘n lekker varkstertjies wat innie oond gebak is.
Ek het 8 skoongemaakte varkstertjies eers in ‘n sous laat lê vir 24 uur.
- Marinade:
- 1 medium ui, gekap
- 2 eetlepels blatjang
- 2 eetlepels tamatiesous
- 2 eetlepels suiker
- 2 eetlepels olyfolie
- 1 eetlepel asyn
- 1 eetlepel paprika
- 1 eetlepel “mild and spicy” kerriepoeier
- 1 teelepel peper
- 2 teelepels sout
- 1 teelepel knoffelvlokkies
- ½ koppie water
- Ekstra:
- 8 skoongemaakte varkstertjies
- 2 medium klein aartappels
- 1 groterige wortel
- 1 koppie gekapte seldery
- ½ pakkie sampioen soppoeier
Meng die bestanddele vir die marinade saam, plaas die sterte in ‘n bak en giet die sous oor, laat in koelkas vir 24 uur.
Plaas die sterte in ‘n oondvaste bak, bedek met foelie en bak in ‘n voorverhitte oond op 160˚C vir 2 ure.
Skil die aartappels en sny in stukke. Sny die wortel in repies. Voeg die aartappels, wortels en gekapte seldery by die sterte in die bak en bedek met foelie.
Bak vir nog ‘n halfuur en voeg dan die sampioensoppoeier wat met ‘n bietjie van die sous uit die bak aangemaak is by.
Bedek met foelie en bak nog ‘n halfuur.
Nota:
Ek’t vir my basmati rys in ‘n blikkie gekook oppie stoof en dit netso op die bord saam met my gereg geplaas en geniet saam ‘n skeppie patat wat gekook is saam met lemoenskywe.
Dit was djeeeeerlik.
Resep en foto’s: Gideon Louw