GIDEON SE VARKIEBROOD
“Ons het vanaand die algemene deegresep gebruik. Die reseppie is heerlik en ek wil sê flatervry! Ons bak brood, roosterkoek en enige iets met dit – tot vetkoek ook. Ons het dit in klein pannetjies gesit en in die varkie-oond gebak. Dit is heeeeerlik.
Ons het ook vroulief se frikkadelle op die kole in die swartpot gedoen en was dydelik ‘n wenner.
Ons het op die brooitjies botter en kaas met ons eie tuisgemaakte makataankonfyt gesmeer en was heeeeerlik. Ek sal sê die resep lewer een mediumgrootte brood. Die deeg moet die pan omtrent ¾ vol maak.”
- 4 koppies koekmeel
- 400 ml louwarm water
- 2 eetlepels kookolie
- 10 g droë kitsgis
- ½ teelepel sout
- 2 eetlepels suiker
Meng al die droë bestanddele saam.
Voeg olie by die water.
Voeg watermengsel by droë mengsel en knie tot ‘n elastiese deeg.
Plaas in ‘n ligte geoliede bak en bedek. Laat dit rys op ‘n warm plekkie tot dubbel so groot.
Knie dan af en verdeel in ses ewe groot dele om in pannetjies te pas.
Bak vir 40 – 50 minute op 180 °C in voorafverhitte oond.
Resep en fotos: Gideon Louw