GESTOOFDE APPEL EN PANNEKOEK NAGEREG
Ek het gisteraand vir ons pannekoek gebak, en toe bly daar 3 pannekoeke oor, en ons is vandag 3 mense vir ete vanmiddag. Toe maak ek hierdie nagereg van die pannekoek wat oorgebly het.
- 2 Granny Smith appels, geskil en in blokkies gesny
- 60 ml pitlose rosyne
- 1 koppie water
- 100 ml bruinsuiker of Xylitol
- 1 kaneelstokkie
- 1 ster anys
- ¼ teelepel mixed spice
- 3 pannekoeke
- 250 ml vla (klaar gemaak of gekoop)
Kook die water en suiker stadig saam tot die suiker opgelos is.
Sit die appels, rosyne, kaneel, mixed spice en ster anys by en kook tot die appels sag is en die stroop bietjie afgekook het.
Haal van die stoof af, haal die kaneelstokkie en die ster anys uit en laat effens afkoel.
Strooi tussen die 3 pannekoeke bietjie suiker (Xylitol) indien verkies en bietjie kaneel. Sit die drie opmekaar en rol saam op.
Sny die pannekoekrol op in eers 3 x 1.5 cm wielietjies, plaas dit onder in ‘n mooi glas.
Skep van die appelmengsel bo-op en skep vla oor, sny die res van die pannekoekrol in 1 cm wielietjies, pak twee wielietjies bo-op die vla en skep weer appelmengsel bo op met bietjie van die stroop saam. Sit weer vla oor heel bo-op en spuit ‘n mooi roomrosie bo-op.
Voila…So maak ‘n boer ‘n plan.
Resep en foto: Rina Kleinhans