Your Recipe Blog

GEROLDE LAMSRIB GEVUL MET SPEK

GEROLDE LAMSRIB GEVUL MET SPEK

Hierdie is nie juis ‘n resep nie, maar meer van ‘n metode. Ek het die deel van die lamsrib gebruik waaraan die lies is saam met so 3 ribbebene vir hierdie rol, want veral die lies gedeelte weet mens nooit regtig wat om daarmee te maak nie. Dit is ook die volgende dag ‘n heerlike koue vleisrol wat mooi dun sny vir toebroodjies, of net so saam met slaaie.

  • 1 ontbeende lamsrib
  • 1 pakkie repies spek
  • heel korrelmosterd
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 groot ui, fyn gekerf
  • 1 – 2 knoffelvingers, fyn gekap
  • ½ rooi soetrissie
  • 3 – 4 stukkies songedroogte tamaties
  • hand vol gekapte selderyblare
  • sprietuie
  • vars pietersielie
  • takkie roosmaryn
  • ½ wiel feta of na smaak
  • tou om die rol mee vas te bind

Ontbeen die rib indien daar bene in is, sit hom plat neer, vel kant onder en kap hom bietjie met ‘n vleishammer, nie te veel nie. Draai die rib om en sprinkel die velkant met sout en swart peper, nie te veel nie, net liggies. Draai weer die rib terug met die vleiskant bo.
Braai die uie en knoffel in bietjie olyfolie, sodra die uie verkleur, sit die soerissie, gedroogte tamatie en selderyblare by, roer net deur, laat so rukkie braai en haal van die stoof af. Laat dit goed afkoel.
Smeer die hele rib met korrel mosterd. Strooi met sout en swart peper, maar nie teveel sout nie want die spek en feta is ook sout.
Pak die hele rib toe met ‘n laag spek. Skep die afgekoelde uiemengsel oor die speklaag en versprei mooi. Nie te naby aan die kant nie, want soos jy rol gaan alles uitdruk.
Snipper die sprietuie en pietersielie oor die rib en krummel die feta oor.
Begin by die korste en dunste kant van die rib, en rol hom mooi styf op.
Maak die rol vas met tou dat alles mooi toe en geseël is.
Plaas van die sprietuie en die roosmaryn bo-op die rol en draai toe in kleefplastiek.
Plaas in die yskas oornag of vir ‘n paar uur.
Verwyder die rol uit die kleefplastiek en maak toe in foelie.
Plaas op stadige kole vir ongeveer 1 uur, hang af hoe groot en dik is die rol.
Verwyder die foelie en plaas op direkte kole, nie te warm nie, en braai al in die rondte totdat die rib deur gaar is en buite om lekker krakerig.
Verwyder van die vuur, plaas in ‘n bak en laat rus vir ‘n rukkie voordat die rol in wiele gesny word.
Bedien saam met geroosterde groente of bykos van jou keuse.
Bere die vleis wat oorbly in die yskas en sny die volgende dag, bedien dan koud saam met slaai of op ‘n broodjie.

Resep en foto’s: Rina Kleinhans

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5