GEGEURDE COUSCOUS EN GEVULDE SAMPIOENE VIR 2
- Couscous:
- ½ rooi ui, repies gesny
- ¼ rooi soetrissie
- ¼ groen soetrissie
- 3 murgpampoentjies
- 8 kersietamaties, heel
- 100 ml matige Mozambican peri peri sous
- 200 ml couscous
- 200 ml kookwater
- ½ blokkie hoenderaftreksel
Braai die ui, soetrissies, murgpampoentjies en kersietamaties in ‘n warm pan met bietjie olie.
Los die aftrekselblokkie in die kookwater op.
Voeg die peri peri sous, couscous en water met aftreksel by die uiemengsel en roer deur.
Prut die mengsel vir ‘n minuut, plaas die deksel op die pan en draai die hitte af.
Laat staan die couscous totdat al die water absorbeer is.
Roer die couscous met ‘n vurk tot dit los en gemeng is met die groente.
- Gevulde sampioene:
- 2 groot bruin sampioene, steeltjies verwyder
- botter vir onderin oondbak
- ekstra botter
- fyn knoffel
- speserye na smaak
- soetrissiesous
- roomkaas
- rooi soetrissie, in blokkies gesny
- Mozzarella kaas, gerasper
- gemaalde swartpeper
- rissievlokkies, opsioneel
Plaas die sampioene in ‘n oondbak waarin bietjie botter gestip is.
Meng die ekstra botter en knoffel na smaak en skep lepelsvol in die gaatjie van elke sampioen.
Sprinkel speserye of geurmiddel na smaak oor die sampioene.
Bak die sampioene in ‘n voorverhitte oond by 180ºC tot die botter gesmelt en die sampioene halfgaar is.
Verwyder die bak uit die oond, tilt die sampioene met ‘n vurk om die botter uit te dreineer.
Meng die soetrissiesous, roomkaas, blokkies soetrissie en Mozzarella kaas en skep lepelsvol in elke sampioen.
Sprinkel swartpeper en indien verkies bietjie rissievlokkies oor die vulsel.
Plaas die oondbak met die gevulde sampioene terug in die oond en bak totdat die kaas gesmelt is.
Nota:
Ek het die 2 bygeregte saam met oondgebakte hoender bedien.
Resep en foto: Christa Fourie