Your Recipe Blog

GEBRAAIDE VARKRIBBETJIE

GEBRAAIDE VARKRIBBETJIE

Ek het dit na baie jare weer ‘n keer of wat gemaak, ek deel graag my gebraaide varkribbetjie resep. Dit lyk dalk na ‘n lang proses, maar die blinkbek eet op die einde is alles die moeite werd.
Ek vra gewoonlik die slagter om vir my die ribbetjie dwarsoor die bene in die helfte te saag. Dit maak die hantering en opsny net makliker.
  • 1 halwe varkribbetjie
  • 1 ui, geskil en in kwarte gesny
  • 3 eetlepels vleis/braai speserye van jou keuse
  • 2 eetlepels droë salie
  • 2 eetlepels knoffelvlokkies
  • 2 eetlepels koljander
  • 4 droë lourierblare
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 3 eetlepels worcestersous
  • 3 eetlepels soyasous
  • ½ koppie bruinsuiker
  • 1 duim grootte stuk gemmer, grof gesny
  • 2 liter water
  • Vir die braaisous:
  • ½ koppie bruinsuiker
  • ½ koppie tamatiesous

Hou die bestanddele vir die braaisous, sowel as die varkribbetjie eenkant.
Plaas die res van die bestanddele alles in ‘n groot genoeg pot vir die ribbetjie om in te pas.
Meng goed tot alles met mekaar getrou het en bring tot kookpunt.
Laat rustig kook vir 20 min.
Plaas nou die ribbetjie in die pot by die sous.

Nota:
Ek sny myne sommer in kleiner stukkies om makliker in te pas.
Kook stadig tot die ribbetjie net sag is.
Dit kan enigiets van 45 min tot 1½ ure neem, afhangende van hoe taai die vleis is.
Dit is net belangrik om die ribbetjie uit die pot te haal as hy sag is, anders val hy later uitmekaar.
Ek toets hom deur te kyk of ek ‘n dun lem mes maklik in hom in kan druk. Sit ribbetjie eenkant neer.
Giet jy die sous waarin die ribbetjie gekook het deur ‘n sif en sit ongeveer 1 – 2 koppies daarvan in ‘n klein potjie.
Voeg die tamatiesous en suiker by.
Laat kook vir so 5-10 min terwyl jy roer tot die suiker opgelos is.
Nog suiker of bietjie asyn kan bygevoeg word as die sous te soet of te min soet is na jou sin.
Plaas die stukke ribbetjie op ‘n rooster oor matige kole en verf met die sous sodat dit lekker taai kan raak.
Ek draai hom minstens 5 keer en elke keer verf ek hom weer met die sous.
Hou hom net mooi dop.
Sodra die sous lekker borrel aan die kole kant van die ribbetjie, wil hy gedraai word, anders gaan hy brand.
Geniet saam met enige bykos van jou keuse, of sny hom in “riblets” op jou braaiplankie en laat jou gaste op hom toe sak.
Sorg net dat jy ook ‘n stukkie kry!

Resep en foto: Corneel Corra Kleynhans
Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page