GEAKTIVEERDE PEKANNEUT EN CLEMENGOLD BROSBROOD
- 840 g egte botter, sag
- 15 ml vanilla pasta
- 5 ml sout
- 400 g stooisuiker, gesif
- 1 kg koekmeel, gesif saam met die Maizena
- 240g Maizena
- 200g geaktiveerde pekanneute, grof gekap * sien onderaan
- 4 Clemengold nartjies se gerasperde oranje skil, ek gebruik ‘n microplane
- 1 knippie Fleur de Sel of Maldon sout
- ekstra strooisuiker vir bo-oor
Voorverhit die oond tot 135°C (konveksie).
Klits die botter, sout, suiker en vanilla saam tot lig en wit op medium spoed.
Gebruik die “flexi beater” of “K- beater”.
Hou eenkant.
Meng die neute, skil en koekmeel mooi deur en voeg dan die geklitste bottermengsel by die meelmengsel.
Meng deeglik, maar liggies en vinnig met die hand.
Druk die deeg vas in ‘n beskuitpan ( 55 x 35 cm) en maak gelyk.
Sit ‘n silpat of ‘n vel bakpapier oor en rol mooi gelyk.
Druk af met die beskuitpan se snyer. Prik elke koekie met ‘n vurk.
Bak vir 34 minute. Draai die pan ‘n halwe draai en bak ‘n verdere 34 min.
Sprinkel die strooisuiker en die klein bietjie sout liggies oor die brosbrood en sny op die lyne met ‘n skerp gladde-lem mes sodra dit uit die oond kom.
Laat staan vir ten minste 30 min voor jy dit uit die pan haal.
Laat heeltemal afkoel op ‘n draadrak en verpak.
Nota:
Geaktiveerde neute is sagter op jou spysverteringstelsel, want die fitielsuur word uitgeweek, wat maak dat die voedingstowwe makliker deur die liggaam absorbeer word.
Dit verhoog die raklewe, want fitielsuur maak dat die neute gou galsterig raak en laastens dit proe 1000× beter.
Dis meer “crunchy” en ligter in die mond.
Dis ‘n lang storie, maar beslis die moeite werd.
*Hoe om neute te aktiveer:
Week die neute vir 4 ure in koue water. Jy gaan skrik hoe die water dan lyk. Dis die suur wat in die water oplos.
Water af en week weer 4 ure in koue water.
Dreineer water af en spoel die neute goed. Ek laat staan dit dan vir so uur in die vergiettes.
Versprei dit op ‘n bakplaat en besprinkel met ‘n KLEIN BIETJIE sout.
Droog dit in die oond met die deur ‘n skrefie oop onder 65°C tot droog. Gewoonlik so 4 ure.
Roer die neute so elke uur. Dis donkiewerk, maar die moeite werd.
Ek gebruik enige neute, ek bak nogal baie en al my neute word geaktiveer. Pistaciou, Pekan, Cashew, Amandels, Makadamia.
Al wat ek nog nie geaktiveer het nie was pine nuts, want ek gebruik dit min omdat dit so bitter duur is.
Ek maak pesto met pistaciou’s. Alle neute is nie ewe hard nie. Pistaciou’s en Makadamia neute droog langer uit.
Resep en foto: Frikkie Jones