Your Recipe Blog

FEIJOADA – PORTUGESE / BRASILIAANSE BOONTJIE- EN WORSBREDIE

FEIJOADA – PORTUGESE / BRASILIAANSE BOONTJIE- EN WORS BREDIE

Hierdie bredie het ‘n paar bestanddele wat moeilik te kry is, maar dit is heeltemal die moeite werd. Ek kon die worse op verskeie aanlyn-winkels vind, maar die maklikste vir Kapenaars (en Kaapse inkommers soos ek) is by die Durbanville Mark. Die bredie is wonderlik in die winter en somer, gee gesonde energie en krag vir oefening, en is ryk aan yster.

  • 1 groot ui, gehalveer
  • 3 tamaties, gerasper en skil wat oorbly gesny in repe
  • 1 eetlepel knoffel
  • 250 g gekapte soetrissie
  • 1 pakkie tamatiepasta
  • 1 blikkie swartbone
  • 1 blikkie rooi niertjiebone
  • peri peri na voorkeur
  • knypie origanum
  • ‘n paar takkies gekapte pietersiele
  • 3 naeltjies
  • 1 pimento korrel / wonderpeperkorrel
  • 2 lourierblare
  • 1 hele Morcella (tipe Portugese bloedwors)
  • 1 hele Farinheira (tipe Portugese wors)
  • 1 gerookte varkskenkel (opsioneel) of dik stuk spek
  • 300 g gerookte varkrib of “belly”

Berei ‘n aftreksel deur die bone deur ‘n sif te giet en die bone-sous, in ‘n pot te kook met die varkskenkel (opsioneel) ‘n halwe ui, ‘n kort stukkie van elke wors, die lourierblare, wonderpeperkorrel en die naeltjies.
Voeg ‘n eetlepel van elke boonsoort by om te verdik. Hou die res van die bone eenkant.
As alles sag gekook is, giet deur ‘n sif en hou die vloeistof eenkant as aftreksel. (As jy wil kan jy die soliede stukke verpulp met ‘n stamper en vysel, en op Franse broodskywe met dik botter smeer vir ‘n uitstekende happie!)
In dieselfde pot, braai fyngekapte ui, tamatieskil en knoffel in olyfolie tot die knoffelkorrels verbruin. Meng die tamatiepasta by. Voeg kruie en speserye na smaak by.
Voeg soetrissie en spek, belly en/of rib by en verbruin.
Voeg die aftreksel en gerasperde tamatie by en prut vir 20 minute. Voeg dan die bone en grof gesnyde morcella by. Prut op laag met deksel oop, sodat geure stadig meng maar nie die bone wegkook nie.
Aan die heel einde, as garnering en omdat dit ‘n sagte wors is wat maklik disintegreer in warm
sous, voeg die grof gesnyde stukke Farinheira by.

Nota:
Geniet met rys, broccoli-rys of sagte gebotterde broodrolletjies.
Groen- of babaspinasie-slaai is ook heerlik hiermee, asook my gunsteling naamlik komkommer-slaaitjie met asyn en neutmuskaat.
Drink ‘n glasie port, vinho verde of ‘n Tinta Baroca hiermee saam en sê vir my “obrigado”!

Foto and resep: Frederik Rudolph van Dyk

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page