ELSABIE SE WENNER TUNA MOUSSE
Hierdie kan bedien word as ‘n voorgereg vir 20 of ‘n ligte ete vir 10 – 12 mense. Hierdie resep is ‘n wenner! Ek maak hom al 16 jaar lank ‘n hele paar keer elke jaar! En dis elke jaar se Kersdag voorgereg. Dit komplimenteer sjampanje perfek.
- 2 x 170 g blikkies tuna, gedreineer (ek verkies die in water)
- 375 ml mayonnaise
- 1 ui, fyngekap
- 3 hard gekookte eiers, gekap
- 125 ml tamatiesous, soos in All Gold, nie paste nie
- 30 ml ansjovis smeer (dis mos anchovy)
- 15 ml gelatien
- 60 ml warm water
- 60 ml yskas water
- as jy hou van bietjie byt, sit groen Jalapeno sous (Banditos) by na smaak
Sit tuna, mayonnaise, ui, eiers, tamatiesous en ansjovis smeer in jou menger (blender / liquidiser) en prosseseer tot fyn en glad.
Los gelatien in warm water op en gooi koue water by en gooi in menger.
Meng totdat gelatien goed deurgewerk is.
Spoel ‘n vorm met koue water uit, skud water goed uit en sprei met olie sproei of Cook en Spray.
Skep die mousse in die vorm en laat oornag set in yskas. OF skep in ‘n broodpannetjie wat met kleefplastiek uitgevoer is OF skep in ‘n bak en stol.
Skep met roomys-scoop uit en bedien op individuele bordjies indien dit in ‘n bak gestol is.
Ontvorm op mooi bord en bedien met melba toast, growwe bruin brood of sout beskuitjies soos Salticrax, want hulle breek nie so maklik as die gaste die mousse opsmeer nie.
Resep en foto: Elsabie Templeton