DIE VERSKIL TUSSEN BROSKORS-, BLAAR-, SKILFERKORS- EN FILODEEG
Die tipe deeg se tekstuur hang af van die verhouding tussen die meel en botter asook die aanmaakmetode. En as gevolg daarvan verskil die resultaat radikaal.
Broskorsdeeg:
Die verhouding meel tot botter is 2:1
Botter word ingevryf en gebind met ‘n vloeistof. Dit het ‘n gladde voorkoms en bros tekstuur.
Blaardeeg:
Die verhouding meel tot botter is 4:3
Die hele hoeveelheid yskoue botter word op een slag ingerasper, vloeistof bygevoeg en aanmekaar gedruk. Dit het ‘n vlokkerige voorkoms. Word gebruik vir pasteitjies.
Skilferkors:
Die verhouding meel tot botter is 1:1
Die meel en vloeistof word tot ‘n deeg gemeng en oopgerol op ‘n oppervlak.
Die botter word in 3 dele verdeel en met elke uitrol word ‘n derde botter, gerasper en versprei op die deeg, toegevou en die proses word herhaal totdat die botter op is.
Hierdie deeg het die rof gerysde pofferige voorkoms en word vir melkterte gebruik, omdat dit ‘n mooi kraag om ‘n melktert kan vorm.
Filodeeg:
Die deeg is iets heeltemal anders, dis ‘n sagte deeg wat baie dun uitgerek word, totdat jy ‘n koerant daardeur kan lees.
In Engels is blaardeeg en skilferkors “puff pastry”.
Ek gebruik die woorde “rough puff pastry” vir skilferkors, maar daar is net in Afrikaans ‘n verskil in die benaming.
Skilferkorsdeeg, die regte, egte, ware Jakob waarmee jy skougehalte melkterte bak, is die deeg wat almal wil bemeester en ook die een waaroor die grootste misverstande bestaan en waarmee mense die meeste foute maak.
Blaardeeg se smeer, meel en yswater word gelyktydig bygevoeg.
Skilferkorsdeeg se smeer word in lae by die deeg ingerol, ‘n heel ander metode.
Inligting en foto: Theresa de Vries