DADELKOEK
Het hierdie koek al 3 keer gebak, want my hele gesin hou daarvan. Ek het hierdie keer my dadels 50 g meer gemaak, want ek wou graag die dadels proe. Dit was heerlik. Hierdie lyk soos ‘n lang resep, maar dis maar hoe ek dit vir myself herskryf het om nie deurmekaar te raak nie.
- Dadel- en lemoenmengsel:
- 100 g gekapte ontpitte dadels
- sap van 1 ½ lemoen
- skil van 1 lemoen (benodig ± 2½ lemoene)
- 3 ml koeksoda
- Beslag:
- 200 g botter
- 175 g strooisuiker
- 2 eiers
- 1 teelepel vanilla geursel
- 200 g koekmeel
- 5 ml bakpoeier
- 2,5 ml koeksoda (plus die 3 ml bo)
- 250 ml karringmelk
- 100 g okkerneute of pekanneute (ek gebruik pekanneute)
- Stroop:
- 80 ml lemoensap
- skil van 1 lemoen
- ½ koppie heuning
- 30 ml sjerrie of brandewyn
- 15 – 20 g botter
- 1 teelepel vanilla
Stel die oond op 170°C. Voer ‘n 23 cm-springvormkoekpan met bakpapier uit.
Dadel- en lemoenmengsel:
Bring die dadels, sap en skil van die lemoen tot kookpunt.
Voeg dan die 3 ml koeksoda by, skakel hitte af en laat afkoel vir ongeveer 20 min.
Terwyl bogenoemde afkoel, maak die koekmengsel:
Beslag:
Room die botter en strooisuiker saam tot lig en donsig.
Meng die eiers by, 1 op ‘n slag en voeg die vanilla by.
Sif dan die meel, bakpoeier en 2.5 ml koeksoda saam.
Vou die droë bestanddele in eiermengsel en wissel af met die karringmelk.
Vou die afgekoelde dadel-en-lemoenmengsel in.
Roer laastens die neute by en giet in die voorbereide koekpan.
Plaas in die oond en bak vir 50 – 70 minute (ek het gevind ‘n uur was omtrent perfek in my oond, maar alle oonde verskil)
Maak die stroop terwyl die koek bak:
Stroop:
Meng die stroop bestanddele, behalwe die botter en vanilla saam in ‘n pot en bring tot kookpunt.
Verlaag die hitte en verminder die mengsel effens.
Skakel die hitte af en voeg botter en vanilla by.
Wag vir so 8 – 10 minute voor jy die stroop oorskep.
Bedien met 250 ml geklopte room met fyn kaneel oor. (ek doen nie die kaneel nie)
Nota:
Maak net seker jy kook die stroop redelik minder anders is die koek baie nat.
Ek koop dadels in seisoen, haal die pitte uit, weeg en vries in 100g sakkies om later te gebruik.
Resep: Janet Kohler
Foto: Stien Rust