CRéPE AU CHOCLAT
Hierdie resep is my gunsteling. Het jare terug by iemand die resep gekry en ek het hom getoor tot hy nou so lyk.
- 8 eiers
- 1 liter volroom melk of helfte melk, helfte water
- 5 ml sout
- 30 ml strooisuiker
- 10 ml vanilla ekstrak
- 680 ml koekmeel, gesif
- 100 ml gesmelte motter, afgekoel
- 100 g elk: wit sjokolade, melksjokolade en donker sjokolade callets of goeie kwaliteit sjokolade bv Belgiese, Switserse of Franse sjokolade, opgekap in splinters en gemeng
Gebruik maar die Kenwood vir die beslag, jy sal nie spyt wees nie.
Klits die eiers teen hoë spoed tot die bak amper vol is.
Voeg die melk, sout, suiker, vanilla by en klits goed pasop dat die bak nie oorloop nie.
Sit die meel in 4 sarsies in en meng goed na elke byvoeging.
Voeg die brandewyn en die afgekoelde botter by. Klits goed.
Laat staan 1 uur. Klits gou weer vinnig deur.
Bak in warm panne met botter. Vir ‘n 20 cm pan gebruik jy 30 ml, ‘n 24 cm pan gebruik jy 50 ml deeg. Om die deeg met ‘n maatkoppie te meet, sorg dat jou pannekoeke ewe dik is. Dit moet soos kant lyk en so dun soos ‘n Bybelblaai wees.
Keer uit en sit ‘n paar callets in die pannekoek en rol op terwyl nog warm.
Bedien met vanillaroomys of na smaak.
Resep en foto: Frikkie Jones