Your Recipe Blog

BROODROLLE MET MAALVLEISVULSEL

BROODROLLE MET MAALVLEISVULSEL

Vinnige en doodmaklike “resep” vir ‘n middagete of aandete as jy nie ure voor die kospotte wil wees nie.
Ek het nie mates nie, sommer so met die hand en hart gemeet.

  • 1 pak gekoopte brooddeeg
  • gaar gegeurde maalvleis, volgens eie smaak (moet koud wees)
  • olyfolie om pan te smeer
  • suikerwater om die deegrolle te smeer
  • gemengde kruie (“Italian herbs”)
  • Variasie:
  • tamatiepastasous, geblik of tuisgemaak
  • gerasperde Cheddar kaas

Deel die deeg in rolletjies en trek die rolletjies met die hand in ‘n dun plat broodjie, soos vir vetkoek.
Skep ‘n eetlepel vol van die vleisvulsel op die deeg en vou die deeg om die vleis om ‘n bal te vorm.
Indien die variasie gebruik, smeer die tamatiepastasous op die deeg, skep ‘n eetlepel kaas op die sous en vou die deeg om die vulsel.
Herhaal tot die deeg op is.
Pak die gevulde deegrolle in ‘n gesmeerde oondpan en smeer die suikerwater met ‘n kwassie op die deeg.
Sprinkel gemengde kruie oor die gesmeerde deegrolle.
Bak die deegrolle in ‘n voorverhitte oond teen 180°C vir ongeveer 30 minute of tot die rolle hol klink wanneer jy dit met jou vinger tik.
Môre se middagete is klaar berei, as dit hou tot dan. Indien verkies, kan jy dit met sop bedien.

Nota:
Jy kan self brooddeeg maak, maar ek is lui en die winkel het dit mos klaar gedoen.
Ek het die ekstra gaar maalvleis wat oor was van die vorige aand se herderspastei gebruik, maar jy kan kerriemaalvleis of sommer jou eie gunsteling vetkoekmaalvleis ook gebruik.

  • Tuisgemaakte tamatiepastasous:
  • tamaties van keuse
  • uie
  • knoffel
  • seldery
  • wortels
  • olyfolie
  • balsamiese asyn
  • basiliekruid
  • roosmaryn
  • sout en peper na smaak
  • bietjie suiker

Plaas die bogenoemde bestanddele, soveel soos verkies, op ‘n bakplaat of in ‘n groot oondpan en braai dit in ‘n warm oond tot dit sag is.
Voeg die gebraaide bestanddele in ‘n voedselverwerker of in ‘n diep bak en en verwerk dit met die voedselverwerker of ‘n “stickblender”, tot ‘n lekker dik sous.

Resep en foto 1 en 2: Karen S Homan

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page