Your Recipe Blog

BRIOCHE BROODROLLETJIES

Recipe by
Cook: 15 - 20 minutes

BRIOCHE BROODROLLETJIES

Jy kan selfs bietjie kaas bo-oor strooi as jy ‘n kaasrolletjie wil hê – hulle kom heerlik uit. Jy kan worsrolletjies ook met dié resep maak. Die resep is wonderlik vir mense wat die eerste keer rolletjies bak – hy’s fool proof. Ek love, love, LOOOVE brood en buns bak.

  • 3⅓ koppies koekmeel
  • 10 g gis (sien nota)
  • 1½ teelepels sout
  • 2½ eetlepels botter
  • 1 koppie louwarm water
  • 3 eetlepels louwarm melk
  • 2½ eetlepels suiker
  • 2 eiers (1 is vir eierwas bedekking)

Sif droë bestanddele in elektriese menger se bak en voeg dan botter by; meng op stelling 3 tot die botter en meel soos krummels lyk. Gebruik die menger se roeispaanlem (indien jy nie ‘n elektriese menger het nie, kan jy dit sommer in ‘n bak plaas en met jou vingers of ‘n houtlepel meng).
Klits eier in ‘n klein bakkie en meng dan in ‘n aparte bakkie met al die nat bestanddele en suiker tot die suiker mooi opgelos het.
Voeg al die nat bestanddele by die meelmengsel en meng op stelling 3 vir sowat vyf minute – indien jy dit met die hand doen, meng tot alles mooi bymekaar gemeng is  (jy hoef nie die deeg te knie nie).
Vorm deeg sommer in die bak in ‘n mooi balvorm en maak toe met kleefplastiek en laat staan vir ongeveer ‘n uur of tot deeg verdubbel het in grootte.

Nadat deeg die eerste keer gerys het, stel oond op 180 °C.
Skraap jou deeg weg van die kante van die bak en plaas dit op ‘n houtbord. Sny die deeg in agt stukkies en vorm mooi ronde broodrolletjies. Plaas op ‘n koekieplaat wat met bakpapier bedek is. Maak toe met kleefplastiek of ‘n klam lappie. Laat rolletjies vir ‘n verdere 30 minute rys.
As jy dit toe maak met kleefplastiek, trek die kleefplastiek baie saggies af – jy wil nie rolletjies laat plat val nie!
Na die 30 minute, klits die ander eier saam met ‘n klein bietjie water en verf rolletjies se bokante  liggies met ‘n kwassie.
Plaas rolletjies in die oond en bak ongeveer 15 – 20 minute.
Sit ‘n koekpannetjie vol water onder in oond vir ‘n lekker sagte rolletjie; indien jy ‘n meer krakerige rolletjie wil hê,  los water en voila!

Nota:
Die tyd wat rolletjies rys is baie, baie belangrik. As jy dit te lank laat rys, voeter jy die deeg só op dat dit nie eetbaar is nie en dit val plat. As jy dit nie lank genoeg laat rys nie maak dit nie genoeg lugborrels binne die deeg om lekker lig te wees nie. Die tye op my resep is net ‘n rofweg skatting! Die rystyd hang af van die klimaat waar jy is!
En as jy die deeg in ‘n bal vorm – doen dit in die bak, moenie die deeg uithaal en dit probeer vorm nie – skraap net die kant af en maak die deeg so rond as moontlik met ‘n skraper – jy haal eers die deeg uit die bak uit NA dit gerys het.
Indien jy kitsgis gebruik MOET jy dit saam met die droë bestanddele meng en dán die voeistof bysit – jy moet dit nie direk in water gooi nie – jy maak die gis dood.
Jy kan aktiewe droë gis in water gooi. Jy moet ook nie die deeg te lank laat rys nie; nét tot dit verdubbel in grootte – vergeet wat die resepte sê van so lank en so lank; ek laat myne so om en by ‘n uur rys. Ek kyk meer vir die deeg as vir die horlosie, want as dit te lank rys, gee dit die rolletjies ‘n slegte smaak.
Die 2de rys is net so belangrik; dis wat jou rolletjie lekker lig en vol lugborrels maak. Ek laat die rolletjies ‘n halfuur rys die 2de keer en maak dit LIGGIES toe met kleefplastiek sodat die vogtigheid binne bly terwyl die oond by die  regte temperatuur kom en as die 30 minute verby is,  trek ek die plastiek BAIE SAGGIES af as die rolletjies klaar gerys het.
Jy kan ook met die resep heeeeeerlike kaasrolletjies maak – jy verf met eier/water mengsel soos gewoonlik en dan strooi jy liggies gerasperde kaas oor – nie te veel nie, want kaas het baie olie in en dis swaar op die delikate lugborrels binne jou ongebakte broodjie.

Resep en fotos: Michelle Malan

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page