BLOUBESSIE KAASKOEK MET PEKANNEUTKORS
Ek het hierdie tert gemaak en dit is regtig ‘n heerlike alternatief. Glad nie soet nie, en vertoon mooi. Ek stel voor bedien die tert teen kamertemperatuur sodat die botter in die kors nie te hard is nie, of as alternatief gebruik bak margarien.
- Pekanneut kors – Hierdie kors is perfek vir enige ongebakte tert of poeding.
- 180 g eetlepels gesoute botter, gesmelt
- 1 ½ koppie koekmeel
- 1 koppie gekapte pekanneute
Voorverhit die oond tot 180ºC.
Meng die gesmelte botter en die meel totdat dit ‘n deeg vorm. Meng die pekanneute in die deeg in.
Druk die deeg vas ‘n tertbak (25 cm) of losboom pan van ongeveer 23 cm.
Indien jy ‘n losboom pan gebruik, druk die deeg ongeveer twee derdes teen die kant ook op.
Maak seker die deeg is nie te dik waar die bodem en die regop rand bymekaar kom nie.
Bak die kors vir ongeveer 20 minute, of tot die kors begin verkleur.
Laat die kors heeltemal afkoel voordat jy die vulsel insit.
- Bloubessiestroop*
- 1 koppie gevriesde bloubessies
- ½ koppie suiker
Kook die bessies en suiker saam op medium hitte totat dit begin verdik.
Roer die hele tyd dat dit nie aanbrand nie.
Vryf die stroop deur ‘n growwe sif met die agterkant van ‘n lepel, sodat al die pitjies agterbly.
Plaas die stroop in die yskas om heeltemal af te koel voor gebruik. Pitjies kan weggegooi word.
- Bloubessie kaaskoekvulsel
- 1 ½ teelepels gelatine
- 2 eetlepels kouewater
- 2 teelepels warmwater
- 230 g roomkaas, kamertemperatuur
- 1 groot blik kondensmelk
- 2 eetlepels suurlemoensap
- 1 teelepel vanilla geursel
- ½ koppie bloubessiestroop*
- 1 pekanneut kors, reeds gebak en afgekoel
- ½ koppie styf geklitste room om mee te bedien, indien verkies
Haal die roomkaas ongeveer ‘n uur voor gebruik uit die yskas.
Sprinkel die gelatine oor die kouewater, laat dit ongeveer 5 minute staan, maak die warmwater warm tot net voor kookpunt, voeg by die gelatine en klits goed totdat die gelatine glad is. Indien nodig sit vir paar sekondes in die mikrogolf en roer totdat dit heeltemal glad en opgelos is. Sit eenkant neer om bietjie aftekoel.
Plaas die roomkaas in die mengbak van ‘n menger en klits tot lekker glad.
Voeg die kondensmelk, suurlemoensap en vanilla by en meng goed deur.
Voeg die gelatinemengsel by die roomkaasmengsel terwyl die menger stadig loop.
Skraap die kante van die mengbak skoon en meng weer goed totdat alles goed gemeng en glad is.
Skep die vulsel in die kors.
Skep teelepels vol van die bloubessiestroop op die vulsel en gebruik ‘n mes om die stroop mooi deur die roomkaasvulsel te “marble”.
Plaas oornag in die yskas om heeltemal te stol of tenminste vir ‘n paar uur.
Indien jy ‘n losboompan gebruik, werk baie versigtig om die ring te verwyder dat jy nie die kant van die tert breek nie.
Wanneer gereed om te bedien, klits die room styf en spuit rosies om die kant of “pipe” ‘n mooi rand met die styfgeklitste room.
Die bloubessiestroop kan ook gebruik word om saam te bedien. Kan ook vars bloubessies of pekanneute gebruik vir versiering.
Resep en foto: Rina Kleinhans