BLOMKOOL RYSSLAAI
Die koolhidraat wat ek die meeste mis op keto/low carb is rys… nie aartappels, brood etc nie, maar rys! En my ma Magda Bellingan Garbers se rysslaai is een van my gunstelingresepte ooit. Ons het vanaand boerewors gebraai, en ek het gevoel dat ons regtig ‘n lekker slaai benodig. En toe besluit ek om die ou gunsteling keto/low carb/diabeetvriendelik te maak. Die beste en lekkerste resep wat ek nog die jaar uitgedink het… en raak net lekkerder hoe langer dit staan. Dit lyk en proe nes die oorspronklike (regtig!), so rysslaai is terug op die spyskaart!
- 1 heel blomkool, gerasper of fyngemaak in ‘n voedselverwerker
- ½ koppie gevriesde ertjies
- 1 medium ui, fyn gekap
- ½ rooi pepper, gekap
- 3 dik snye kaas, in blokkies gesny
- 2 eiers, gekook en gekap/gerasper
- 3 eetlepels vars pietersielie, gekap
- 200 ml mayonnaise, tuisgemaak of gekoop
- 3 eetlepels suurroom
- 1 eetlepel wit asyn
- 1 teelepel aromat
- 1 teelepel witpeper
- sout en swartpeper na smaak
Kook die blomkool en ertjies vir 5 – 7 minute tot net gaar. Dreineer dit in ‘n sif en spoel goed af met koue water. Plaas die mengsel in ‘n mengbak, voeg die res van die bestanddele by, meng goed deur en laat staan vir minstens ‘n uur voordat dit bedien word.
Resep en foto: Ilze Jacobs
Category: