Your Recipe Blog

BEWARING EN BEVRIESING

BEWARING EN BEVRIESING

Bevriesing:
Bevriesing beteken dat die temperatuur van kos vinnig afgebring moet word tot –18º C (of 0º C) sodat die voedingswaarde, kleur en smaak behou word.
In bevrore voedsel word die chemiese veranderingsprosesse vertraag en word skadelike mikro-organismes onaktief. Dit laat kos lank vars bly, maar dan moet die temperatuur nooit bo –18º C (0º C) styg nie. Die maksimale tydperk van bewaring hang af van die kossoort.
Na ontdooing hervat die chemiese prosesse weer.

Vir die beste bevriesingsresultate moet kos:
So lugdig moontlik verpak word;
So gou moontlik verpak word;
So gou moontlik bevries word;
By ‘n temperatuur van minstens –18º C (0º F) bewaar word; en
Eers afgehandel word voordat jy dit in die vrieskas sit.

Volg die wenke as jy voedsel suksesvol wil berg en/of bevries:
Blaargroente:
Omdat blaargroente soveel water bevat (ongeveer 80%), moet dit teen uitdroging beskerm word, Spoel blaarslaai af en laat goed dreineer. Sit in ‘n geperforeerde plastieksak in yskas.
Moenie bevries nie.

Brood:
Bêre brood vir 2-3 dae in plastieksak in broodblik, nie in lugdigte houer nie.
Vars gekoopte of tuisgebakte brood wat in verseëlde plastieksakke bevries word, bly etlike maande eetbaar. Die smaak kan verander as brood hoë vetinhoud het.

Eiers:
Eiers kan vir 3-4 weke by 4-8 ºC gebêre word. Eiers kan tot 6 maande in ‘n vrieskas hou as hulle sonder dop en geklits bevries word. Bevries gebreekte eiers een-een in ysbakkies, keer uit en bêre in plastieksak in vrieskas.

Groente:
Hou groente op ‘n koel, donker plek of in die yskas. Vars groente moet lug kry en nie uitdroog nie, anders verwelk hulle. Verwyder plastiekomhulsels wat neig om kondensasiedruppels aan binnekant vorm, want vogtigheid laat groente bederf.
As voorsorgmaatreël word sommige groente soos wortels, uie en kool in geperforeerde plastieksakke verpak.
Wortels en uie bly 5-6 dae vars in koel, donker, lugdigte plek en hou 2-3 dae in die yskas.
Kop- en rooikool bly onverkoel 1-2 weke vars, spruitkool 1 week en blomkool slegs 2-4 dae. Koop en kook broccoli op dieselfde dag.
Chinese kool bly tot 1 week vars in ‘n slaaibak in die yskas.
Tamaties, komkommers en soetrissies verkies temperatuur van sowat 10º C.
Vars ertjies en boontjies moet liefs in ‘n plastieksak of verseëlde houer in die yskas gebêre word.
Meeste groente kan bevries word – kropslaai, radyse en komkommers nie.
Dis belangrik dat veral groente wat rou bevries word, heeltemal vars moet wees. Meeste groente kan rou bevries word, behalwe sappige soorte soos tamaties, blaargroente en aartappels wat of pap of soet word. Hulle moet eers gaargemaak word.

Wenk: Dis raadsaam om groente te blansjeer voordat dit bevries word. Dompel vir ‘n rukkie in diep kokende water. Laat vinnig afkoel deur in yskoue water te spoel. Verpak in plastiek en bevries dadelik.

Hoender en ander pluimvee:
Haal binnegoed uit en bevries dit apart of hou hoogstens 1-2 dae in die yskas. Draai hoender losserig toe in plastiek en bevries of plaas in yskas (bly tot 3 dae vars). Gaar vleis bly 1-4 dae vars in die yskas – bedek met kleefplastiek.
Bevrore hoender en kalkoen bly tot 6 maande vars in die vrieskas; gans en eend, weens vetgehalte van vleis, slegs 3 maande – afval ook.

Kaas:
Alle soorte kaas moet onder in die yskas bewaar word en bedek word met Glad-Wrap-kleefplastiek om te beskerm teen uitdroging. Kaas moet teen kamertemperatuur bedien word.

Kruie:
Kruie bly vars in ‘n plastieksak of lugdigte houer in die yskas.
Gedroogde kruie se rakleeftyd is 6 tot 12 maande.

Melk:
Melk bevries maklik en moet verkieslik bevries word in ‘n houer (gewoonlik sakkies) waarin dit verpak is.

 Pasta:
Pasta kan droog vir 2-3 maande by kamertemperatuur gebêre word.
Spoel gekookte pasta in koue water af en plaas vir ‘n paar dae in ‘n toe houer in die yskas.
Pasta moet net bevries word as dit deel van ‘n gereg is, anders word dit maklik pap en klam.

Sop:
Meeste soorte sop kan 1-2 dae in die yskas gebêre word, met uitsondering van sop wat skulpvis bevat. Laat afkoel en bedek met kleefplastiek sodat dit nie heeltemal absorbeer nie.
Sop kan tot 3 maande en aftreksel tot 6 maande bevries word afhangende van bestanddele. Voeg room, eiergeel en garnering by wanneer klaar opgewarm is.

Souse:
Souse moet verkieslik so gou moontlik gebruik word nadat dit gemaak is. Ryk souse moenie langer as 3 maande bevries word nie.

Smere:
Hou botter en margarien in oorspronklike verpakking in die yskas. Olie moet in koel, donker kas gebêre word – nie in die yskas nie, want dit laat die olie verdik.
Botter en margarien kan bevries word, maar nie lank nie omdat dit hoë vetinhoud het.

Suiker:
Suiker is gevoelig vir wisseling in temperatuur en lugvogtigheid en moet in lugdigte houers gebêre word. Moenie bevries nie.

Sout:
Sout is gevoelig vir wisseling in temperatuur en lugvogtigheid en moet in lugdigte houers gebêre word. Moenie bevries nie.

Vis:
Vars vis smaak die beste as dit op die dag van vangs geëet word. Vis wat skoongemaak en gewas is, bly sowat ‘n dag in die koudste deel van die yskas vars.
Gerookte vis hou tot 1 week lank in die yskas, maar hoe varser, des te beter die smaak. Plaas in ‘n plastieksak of in ‘n houer met deksel sodat dit nie uitdroog of geur van ander kos aantas nie.
As jy vars vis het, maak goed skoon en was onder koue lopende water. Druk droog met kombuispapier en draai toe in plastiek.
‘n Heel vis moenie meer as 3 kg weeg nie, anders duur dit te lank om te vries. Die vleis sal dan taai word. Maer vis bly tot 6 maande en vet vis slegs 3 maande eetbaar.

Vleis:
Plaas vleis dadelik in yskas. Haal eers uit verpakking, vee met ‘n asynlap af en draai dun skywe soos tjops en biefstuk liggies toe in kleefplastiek. Plaas in koudste deel van die yskas.
Groot bees- en varkvleis slegs 5-10 dae vars in die yskas en varkvleis slegs 2-4 dae.
Tjops en biefstuk kan 2-3 dae en maalvleis 1-2 dae in die yskas gebêre word.
Draai vleis toe in dik plastiekstof, plastieksakkies of kleefplastiek.

Vrugte:
Alle vrugte moet in koel, droë, lugtige plek gebêre word. Yskas is te koud vir vrugte en net appels en pere kan by sowat 7 ºC (45 ºF) gebêre word. Plaas dan vrugte in plastieksak met gaatjies en sit in die yskas.

Jou gids tot bewaring en bevriesing

Om te verseker dat kos – wanneer dit bewaar of bevries word – hul smaak en voedingswaarde behou, moet dit op die regte manier verpak word.
Wanneer kos by ‘n fabriek ingemaak word, is daar streng regulasies waaraan voldoen moet word. Wanneer jy kos by die huis wil voorberei vir bewaring of bevriesing, help die volgende om te voorkom dat bakterieë versprei:
Was altyd jou hande in warm water tussen die verskillende stappe van voorbereiding.
Bedek snye en velwonde met ‘n waterdigte pleister.
Gebruik skoon gereedskap en houers vir elke stap. Moet byvoorbeeld nie dieselfde lepel gebruik om te proe en om die kos mee te roer nie.
Maak altyd seker dat jy jou snybord deeglik was nadat jy vars kos verwerk het. ‘n Marmerbord is verkieslik by ‘n houtbord.
Moet nooit naby jou werkoppervlak rook nie.

Bewaring:
Kruideniersware sal maande lank vars bly as bewaringstoestande reg is:
Bêre kruideniersware in ‘n koel, droë kas, weg van sonlig en hitte. ‘n Suidelike of oostelike muur is ideaal.
Rakke moet bedek wees met ‘n afwerking wat afgevee kan word. Maak dadelik skoon as jy gemors het.
Gebruik ou droë bestanddele eerste en moet nooit vars bestanddele by oues gooi nie. Droë bestanddele soos meel kan nie ‘n onbepaalde tyd gebêre word nie. Koop net een keer per maand soveel as wat jy kan gebruik.
Hou kos dig toe. Wanneer ‘n pakkie eers oopgemaak is, moet die inhoud in ‘n fles met ‘n deksel gegooi en bewaar word.
Merk die houers dudelik.

Wanneer kos in die yskas geberg word, hou die volgende in gedagte:
Die koudste deel van die yskas is net onder die vrieshokkie, terwyl die deur die minste koud is.
Bêre rou kos soos vleis, vis en pluimvee dus altyd op die boonste rak.
Gaar kos kan in die middelste deel gebêre word, terwyl die rakke in die deur geskik is vir eiers, botter, margarien en melk.
Vrugte en groente moet heel onder in die groentebak kom.
Verpak kos voordat dit in die yskas gesit word. Dit voorkom dat dit uitdroog en dat die geure van ander kos in die yskas aanteas word. Gebruik glas- en plastiekhouers met deksels, of plastieksakke.
Oop bakke moet met kleefplastiek toegemaak word.
Wat vars vleis betref, sit dit in ‘n bak of ‘n bord en bedek liggies met kleefplastiek sodat dit heelwat lug kry.

Geplaas deur Louisa Hollenbach
Foto:  Louisa Hollenbach

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page