ALLEGAARTJIE PANOMELET
Wanneer ontbyt die jongmanne moet deurdra tot heelwat later in die dag, word die volgende resep vinnig “gebore”.
- 5 jumbogrootte eiers
- ± ¼ koppie melk
- 2 gerookte Russiese worsies, in dun wieletjies gesny
- ½ pakkie knopiesampioene, in skyfies of kwarte gesny
- ½ ui, fyn gesny
- 1 groot aartappel, in blokkies gesny
- ± 10 kersietamaties, gehalveer
- 500 – 600 ml gerasperde Cheddarkaas
- 3 eetlepels gerasperde Parmesaankaas
- groenuie speserye
- 2 ml bakpoeier
- sout en peper na smaak
Kook die aartappelblokkies in soutwater net tot sag, giet water af en hou eenkant.
Braai die uie en sampioene saam tot gaar. Skep uit en hou eenkant.
Braai die worsies in dieselfde pan tot net deurwarm.
Klits die eiers, melk, bakpoeier, speserye, sout en peper met ‘n ballonklitser tot goed gemeng.
Verhit bietjie olie in ‘n kleefvrye pan en braai die aartappelblokkies liggies, maar moenie stukkend roer nie.
Giet die eier oor die aartappelblokkies en volg met die worsies, gebraaide uie en sampioene.
Skep die tamatiehelftes oor die mengsel, sprinkel Parmesaankaas oor en sprinkel die Cheddarkaas egalig oor die mengsel.
Plaas ‘n glasdeksel op die pan, verlaag die hitte en bak die omelet tot die eier gestol en die kaas lekker gesmelt het.
Verdeel die omelet in die verlangde porsies en sit warm voor.
Resep en foto’s: Elma Brittz-Venter