50 KOSWENKE
‘n Paar wenke wat ek raakgelees het.
1. Om uie vinniger te karameliseer, doen dit in ‘n non-stick Teflon pan sonder enige olie of botter. Hierdie manier gee vir jou baie vinniger mooi gekarameliseerde uie en dit is nog gesonder ook as tradisionele maniere.
2. Onthou as jy vars vis koop ruik gerus daaraan, as dit visserig is dan is die vis al aan die ou kant. Soek vir jou ‘n stukkie vis of ‘n boksie vis uit wat soos water of nog soos die see ruik.
3. Wanneer jy soet koekies bak, maak seker jou deeg is goed koud wanneer jy dit in jou bakplaat pak voor die bakproses. Sodoende verseker jy dat jou koekie sy vorm makliker behou omdat die bakpoeier dan alreeds begin reageer op die hitte voor die botter in die mengsel die koekie laat uitsak.
4. As jy wil uitvind of die olie waarin jy iets wil braai warm genoeg is, steek ‘n hout sosatie stokkie of houtlepel in die olie – as daar borrels om die hout vorm is die olie net reg vir die diep braai.
5. Stoor jou speserye in ‘n koel donker kas – nie bo jou stoof of reg langs jou stoof nie want die stoof en selfs sonlig laat speserye hulle geur en varsheid verloor.
6. Onthou wanneer jy koek bak om jou bestanddele toe te laat om tot kamertemperatuur te verwarm – veral goed soos botter, eiers, roomkaas, room ens. As jy koue bestanddele gebruik gaan al die energie eers gebruik word om die bestanddele op te warm instede daarvan dat die hitte gebruik word om die bestanddele te laat rys of te reageer. Veral ook met rolletjies skilferkors deeg wat pof omdat die botter tussen die lae borrel en die deeg laat lig.
7. Moet nie olie by die pasta water voeg as jy pasta kook nie. Dit veroorsaak dat die pasta geseël word en die sous kan dan nie lekker met die pasta vermeng nie.
8. Wanneer jy kapokaartappels maak, sit die aartappels weer terug in die warm pot nadat jy die water afgegooi het. Maak dig toe met die pot deksel en stoom vir ‘n paar minute. Sodoende droog die aartappels mooi en sal die botter en room of melk wat jy byvoeg lekker geabsorbeer word wanneer jy die aartappels fyn maak om ‘n heerlike tekstuur te verkry.
9. Vleis – veral biefstuk – moet by kamertemperatuur wees wanneer jy dit gaarmaak om die beste geur te verkry.
10. As jy ‘n heel hoender heel sappig binne wil he en die vel lekker bros buite. Vryf sout binne en buite oor die hele hoender en laat staan vir ‘n uur. Klad af met kombuis papier en sit in oondpan om te bak.
11. Om ‘n blom vaas met ‘n nou nek binne skoon te kry vul met warm water en ‘n paar kunsgebit skoonmaak pille – laat oornag staan en spoel dan met skoonwater uit en laat onderste bo droog word.
12. Hier is ‘n paar boererate:
• Gebruik appelasyn of donker sjokolade as jou bloeddruk hoog is.
• Borrie help met die voorkoming van borskanker.
• Rooi peper (cayenne) help vir omtrent alles.
• Kaneel en heuning mengsel is uitstekend vir rumatiek.
• Knoffelhuisie of twee elke dag is baie goed vir jou gesondheid.
• Lemoene en kiwis is ‘n groot bron van Vitamine C.
• Goeie tamatiesous is ‘n uitstekende anti-oksidant.
• Komkommers is baie goed vir jig en gout.
13. Juwele kom baie mooi skoon as jy dit met ‘n ou tandeborsel met bietjie tandepasta skoonmaak.
14. Wanneer jy ‘n eier omelet maak gebruik water in plaas van melk, want dit maak stoom wat help om die omelet op te pof.
15. Wanneer jy kerrie maak is dit verkieslik om die kerrie en speserye wat jy gebruik saam met die uie vooraf te braai om al die geure vry te stel.
16. Om die brand van rissies in kos te verminder haal die pitte uit en gebruik net die lyf van die die rissie.
17. Groen groente wat in eers in papier handoek toe gedraai word en dan in ‘n plastiek sak gesit word verleng die varsheid van jou groente met +- 4 dae.
18. As jy sitrusskil nodig het vir ‘n resep rasper dit, of gebruik ‘n zester regoor die bestandele waarin dit moet bygevoeg word want in die proses word baie aromatiese sitrus olies afgeskei in die bestandele wat meer smaak tot gevolg het.
19. Slaai vir ‘n groot ete moet liefs deur jou gaste self met slaaisous gegeur word om te voorkom dat die slaai blare papperig word.
20. Wanneer jy aftreksel maak probeer sommer om ‘n groot pot op een slag te maak en vries die aftreksel in individuele ziplock plastieksakkies. Dit is dan baie maklik om dit later dan in bredies, soppe of souse te gebruik. Dit is BAIE belangrik om op die sakkies te skryf wat in elkeen is.
21. As jy gaste of iemand spesiaal wil beindruk moet liefs nie resepte gebruik wat jy nog nie voorheen gemaak het nie.
22. Vryf jou hande vir so 30 sekondes teen jou stainless steel opwasbak voordat jy jou hande afwas – dit sal reuke van knoffel en uie verwyder.
23. Vir ‘n gesonder romerige slaaisous gebruik helfte hoeveelheid Griekse jogurt en helfte hoeveelheid mayonaisse.
24. As jy vars kruie opkap, gooi ‘n bietjie sout op die snybord om te keer dat die kruie rond beweeg terwyl jy dit opkap.
25. Om ‘n lekker sous te maak vir hoender – bak die hoender bo-op grof gekapte uie en nadat die hoender gaar is versap alles saam gooi terug in die pan, voeg bietjie room by en verhit.
26. Vleis wat stadig teen ‘n laer temperatuur gebak word het ‘n baie lekker geur en kan baie sagter wees en minimaal krimp.
27. Suur, sout en peperwortels (horseradish) bring geur uit in geregte.
28. Onthou resepte is nie die alfa en omega nie – vervang gerus bestanddele waarvan jy nie hou nie soos bv. tiemie met origanum.
29. Proe altyd jou kos soos jy vorder in die kookproses – so kan jy moontlike foute uitskakel.
30. Hoe fyner jy knoffel opkap hoe meer intens sal die knoffel geur wees – maar hoe langer jy die gereg kook met die knoffel in hoe minder sal die knoffelgeur wees.
31. Half gevriesde spek, ham en hoenderborsies sny makliker op in repies as jy repies nodig het vir ‘n resep.
32. Wanneer jy knoffelhuisies met ‘n mes plat druk doen dit binne in ‘n sakkie. Dan ruik jou snybord nie na knoffel nie.
33. Moenie sitrus gebruik in ‘n marinade nie dit maak die vleis melerig – sprinkel eerder sitrus soos suurlemoen oor net voor opdiening as jy daarvan hou.
34. Wanneer jy bestandele moet opkap maak baie seker dat jou mes baie skerp is – dit is vinniger en veiliger.
35. Groente wat geblansjeer word behou hulle kleur as jy dit direk nadat jy dit geblansjeer het in yswater dompel.
36. Moenie ‘n pan te vol pak wanneer jy iets braai nie anders begin dit stoom en kook.
37. Vars basilie blare hou langer as jy dit nog aan ‘n takkie in water teen kamer temperatuur los.
38. ‘n Bietjie melk en sout in die water waarin blomkool gekook word hou die blomkool mooi helder wit. Spoel die gaar blomkool met koue water af om die kook proses te stop.
39. Rol ‘n suurlemoen vir 1 minuut hard met jou palm op ‘n tafel om die meeste sap uit te kry of mikrogolf die suurlemoen vir 10 sekondes voordat jy dit uitdruk.
40. Om ‘n lekker groentesop te maak, braai uie, wortels en tamaties in olie saam voordat jy enige iets anders byvoeg – dit verseker vir jou ‘n heerlike groente smaak.
41. Gegeurde asyne kan smake goed uitlig en komplimenteer, eksperimenteer gerus en gebruik minder sout.
42. As jy sukkel met reuke in jou yskas sit ‘n oop bakkie met koeksoda of ‘n stukkie steenkool in jou yskas – dit sal die reuke absorbeer.
43. As ‘n laai vassit in jou kombuis vryf ‘n koekie seep op die laai se lopers totdat die laai glad loop.
44. Kook ‘n koppie water met 4 eetlepels suurlemoensap vir 5 minute in jou mikrogolfoond. Die mikrogolfoond sal dan lekker opgestoom wees – vee die mikrogolf na 1 minuut uit – dit sal dan silwerskoon wees en lekker ruik.
45. Om jou strykyster skoon te maak op sy strykoppervlakte – sit growwe sout op ‘n skoon lap en stryk met strykyster wat op die warmste hitte gestel is oor die growwe sout.
46. Keer dat daar vetterigheid in jou oond aanpak deur die oond so nou en dan met ‘n asynlap uit te vee.
47. As jy wil keer dat die ontbyt spek wat jy gaarmaak omkrul, maak dit voor die tyd bietjie nat voordat jy dit in die pan braai.
48. Beet kook vinniger gaar as jy ‘n mespunt botter of ‘n eetlepel asyn by die water voeg.
49. Om te keer dat die sout in jou soutpot vassit gooi ‘n paar korrels rys in die soutpot.
50. Moenie potjiekos baie oopmaak tydens die kookproses nie – jy verleng die proses en verloor belangrike vog.👌
Wenke geplaas deur Alet Schoen Murray
Foto: JJH de Beer