Your Recipe Blog

3 EIER OMELET MET EIERWIT VARIASIE

3 EIER OMELET MET EIERWIT VARIASIE

  • 4 eierwitte of 3 heel eiers
  • ½ teelepel bakpoeier
  • Fetakaas na smaak
  • vars origanum na smaak
  • oorskiet hoender
  • ‘n spatsel basiliepesto
  • olie
Vandag is ‘n omelet dag. Ek glo in die 3 eier ding. As jou partner nie eiergeel eet nie, maak jy ‘n wit omelet.
Ek klits daarvoor 4 vervelige eierwitte met ½ teelepel bakpoeier tot ‘n ligte skuim. Dit laat die ding uitrys soos ‘n jong bruid na die eerste 5 maande van getroud wees.
Jou pan moet honeymoon-warm wees en goed geolie. Nou gooi jy die skuimende besigheid in die warm pan. Sodra sy pof, krummel fetakaas oor die besigheid. Ek gooi vars origanum by omdat dit ‘n heerlike vars ligte herfsgeur wat na groen proe aan die omelet verleen.
As die klammigheid weg is, rol jy hom soos ‘n pannekoek bymekaar en keer hom op ‘n mooi bord uit. Moenie dat die ding uitdroog nie. Hou hom lig.
Vir my is dit ‘n drie-eier omelet. Die geel deel ononderhandelbaar by. Die metode is presies soos bo.
Hierby sny ek oorbly platgemoerde hoender (Cordon Bleu) in dun elegante skywe. Ek moet vleis eet, al is dit mak aasvoël!
Nou skilder jy jou bord. Ek hou die een kant kaal. ‘n Skoon pallet. In die middel van die bord kom die opgerolde omelet. Die skyfies Cordon Bleu word teen die omelet gepak dat dit so skuins daarteen terug kan lê soos ‘n moeë man in die kussings vir sy Sondag-middag nap. Ek gooi onwillekeurig ‘n lepel van gister se bêrekos-hollandaise sous oor en strooi nog groen goed oor. ‘n Spatsel basiliepesto voltooi die klein kosskildery, en siedaar. Ontbyt is liplekker in die sakkie. ‘n Vreet-same Sondag wens ek jou toe.
(Jy kan altyd ook groen-vy skyfies bo-op pak en ‘n roosterbroodjie vir oemf bysit!)
Foto en resep:  Dricus Bosman

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page