Your Recipe Blog

HONDEKOS IN DIE DRUKKOKER

Recipe by
Cook: 7 minute en 30 minute afkoel tyd

HONDEKOS IN DIE DRUKKOKER

“Ek het by vriende gaan kuier vir ‘n paar weke, en hulle het ‘n groot hond wat nou al amper 15 jaar oud is. Hulle sukkel om haar aan die eet te kry, en koop vreeslike duur kos vir haar. Toe “Google” ek vir drukkoker resepte en kom op die ene af. Ek het dit gemaak, en sy (en my twee honde) het dit verslind! Ek het dit toe verskeie kere weer gemaak, and al 3 honde het te heerlik gesmul daaraan.”

  • 1 – 1½ kg maalvleis
  • 250 – 500 ml gaar rys of pap
  • 650 g gemengde groente
  • 250 ml vrugte, opsioneel
  • 500 ml vleisaftreksel
  • 30 – 45 ml klapperolie

Braai die vleis tot bietjie bruin. Ek moes dit in sarsies doen, want daar was te veel om alles tegelyk te braai. Plaas al die vleis terug in die pot, en roer die rys en die klapperolie daarby saam. Roer dan die groente en die vrugte by. Gooi die aftreksel by en roer deur. Sluit die deksel toe, en kook vir sewe minute onder hoë druk. Laat die pot staan vir 30 minute om vanself af te koel. Wanneer die druk weer normaal is, maak die pot oop en verdeel die kos in porsies. Wanneer dit heeltemal afgekoel het, kan jy vir die hond daarvan gee en die res in die yskas bêre.

Nota van Debbie Edwards:
So vêr het ek beesvleis, hoender en kalkoen gemaak (3 aparte kere – nie saam nie!). Vir groente het ek ertjies, wortels, groenbone en brokkolie gebruik, maar jy kan seker enige ander groente ook gebruik. ‘n Pak bevrore groente werk baie goed! Moet NIE uie, knoffel of sampioene gebruik nie. Vir vrugte het ek ‘n appel gerasper, maar jy kan aarbeie, bloubessies, perskes, spanspek of bosbessies ook gebruik. Moet NIE druiwe, kersies of tamaties gebruik nie. Terug by die huis het ek my groot drukkoker gebruik en ‘n dubbel hoeveelheid gemaak. Met hierdie poging het ek kalkoen, en omtrent 12 klein peuselworsies, wat ek versnipper het. Ek het ‘n pak bevrore ertjies en wortels, ‘n gerasperde appel, rys en hoenderaftreksel gebruik.

Resep en foto: Debbie Edwards

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5