Your Recipe Blog

FLUWEELPOEDING-ROOMYSPOEDING

| Servings: 6

FLUWEELPOEDING-ROOMYSPOEDING

Dié poeding herinner my aan winterdae in die skoolkoshuis. Daar het dit die naam “roomyspoeding” gehad en as ons dit na ete gekry het, het daar nooit iets oorgebly nie. Probeer ‘n slag vir elkeen ‘n individuele porsie in vuurvaste bakkies of koppies bak. Jy kan enige konfyt gebruik – aarbei-, vye- of frambooskonfyt is ewe lekker.

  • 125 ml suiker
  • 2 ml sout
  • 180 ml koekmeel
  • 1 liter volroommelk
  • 4 eiers, geskei
  • 60 ml botter
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 45 ml louwarm appelkooskonfyt
  • 60 ml strooisuiker

Meng die suiker, sout en koekmeel. Verhit die melk tot net onder kookpunt. Giet ‘n bietjie daarvan oor die meel en suikermengsel en meng goed. Giet terug by die warm melk en verhit stadig oor lae hitte terwyl geroer word tot verdik.
Klits die eiergele en giet die warm melkmengsel daaroor. Meng goed en voeg die botter en vanieljegeursel by.
Giet in die voorbereide oondbak en bak vir 40 minute teen 160 °C.
Smeer die appelkooskonfyt oor.
Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepelsgewys by.
Klits tot styf en blink.
Skep op die poeding en smeer met agterkant van ‘n lepel tot die hele poeding bedek is.
Bak vir ‘n verdere 10-15 minute tot die punte liggoudbruin is.
Sit warm voor met dun vla.

Resep geplaas deur Rina Kleinhans
Foto:  Marilize Williams

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5