Your Recipe Blog

ADAM SE HOENDERPASTA MET ONKONVENSIONELE KAASSOUS

ADAM SE HOENDERPASTA MET ‘N ONKONVENSIONELE KAASSOUS

  • 3 hoenderborsies
  • 2 gekapte ui
  • 4 medium grootte aartappels, in klein blokkies gesny en gaar gekook (Opsioneel vir diegene wat gekant is teen twee stysels in een bak)
  • 175 g gekapte ontbytspek
  • 150 g gevriesde pitmielies
  • 50 g kaaskrulle
  • 2 eetlepels botter
  • 1 pakkie sampioen of wit uie soppoeier
  • melk
  • 300 g pasta, gekook volgens pakkie se instruksies en gedreineer

Braai die uie saam met die hoenderborsies in ‘n klein bietjie olie tot die borsies verbruin het. Voeg ‘n koppie water by en stoom of kook dit saam met jou gunsteling kruie en speserye tot die hoenderborsies gaar is. Indien jy dit kook, voeg nou en dan bietjie water by sodat daar aan die einde van die kookproses ongeveer ‘n koppie aftreksel in die kastrol is. Laat die gaar borsies dreineer en afkoel. Haal ook die uie met ‘n dreineringslepel uit en hou eenkant. Behou die aftreksel vir later gebruik.
Braai die ontbytspek in dieselfde pot waarin die hoender was (minder skottelgoed) en roer die mielies daarby in.  Laat ‘n rukkie saam braai. Sny of breek die hoender in klein stukkies en meng saam met die gaar uie met die spek mengsel.  Roer laastens die gaar pasta en die aartappels deur die hoendermengsel.

Sous:
Verhit die botter in ‘n kastrol en sodra dit begin bruis,  meng die pakkie soppoeier deeglik daarin.  Laat vir ‘n minuut of twee kook.  Voeg die hoenderaftreksel bietjie vir bietjie by terwyl jy gedurig roer om ‘n sous te vorm.  Voeg bietjies bietjies melk by totdat jy die verlangde dikte van die sous kry.  Die sous moet nie te dik wees nie.  Maak die kaaskrulle fyn en voeg dit by die sous.  Meng baie deeglik totdat al die kaaskrulle opgelos het.  Voeg nog melk by indien dit nou te dik raak.  Meng die sous met die hoender en pasta mengsel en plaas in die oond by 180ºC tot dit lekker borrel.

Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto:  Adam Cloete

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5