Your Recipe Blog

Interesting Stories

OOS-EUROPA SE KLUITJIES

No Comments

As daar een gemeenskaplike gereg is wat in alle Skandenawiese lande en Oos Europa, vanaf die grense van Duitsland tot by die Ural gebergtes in die Noorde van Oos-Europa, raakgeloop sal word, dan is dit kluitjies. Hierdie kluitjies verteenwoordig trooskos wat gebore is uit armoede en skaarsheid van kos – die nodigheid om meer te maak van min en om so maniere te vind om ‘n maaltyd te maak van klein hoeveelhede vleis.
Dit word beweer dat die Poolse pierorgi tuis geskep is tydens ‘n 13de eeuse hongersnood. Hulle verteenwoordig die vindingrykheid van ‘n verhongerde nasie wat probeer om te oorleef. Dit het baie geslagte geneem vir hierdie nederige kluitjie om van ‘n arm mans gereg opgehef te word tot die geliefde Poolse stapelvoedsel wat dit vandag is.
Elke land het natuurlik sy eie weergawes en daar is kluitjies vir Kersfees en kluitjies vir Paasfees. Voorgereg kluitjies en nagereg kluitjies. Kluitjies wat van beide aartappels of eiers gemaak word en kluitjies wat met kaas gevul word en kluitjies wat van kaas gemaak word.
Afhangend van die streek, kan ‘n Poolse pierorgi gevul wees met vleis en uie en ment suurroom bedien word. In die Ooste kan dit gestop word met lensies en salm en in die Noord-Ooste van die land gebruik hulle gansvleis. Op Oukersaand, wanneer vleis verbode is sal jy ‘n vulsel van sampioene en suurkool kry terwyl versuikerde bloubessies of aarbei mousse in die somer baie gewild is.
In Siberia en die Ural gebergtes kry jy die Russiese Pelmeni wat gewoonlik kom met gemaalde bees- of varkvleis. Hier kry jy nie soet weergawes nie en sal die kluitjies dikwels is sop bedien word. Die Ukraine se Vareniki is dikwels gevul met aartappels en gebraaide uie terwyl ander ‘n amper ondraaglike ryk vulsel van plein varkvet, aartappels, kaas, melk en eiers het. Hulle beweer dit is uitstekend om energie vir die uiters koue winters op te bou en te bewaar. Cepelinai is die nasionale kluitjie van Lithuania. Hulle is gewrig grootte aartappel kluitjies wat gevorm is soos ‘n Zepplin lugskip en is gevul met vleis, kaas of sampioene en word dikwels bedien met suurroom en krakerige gebraaide varkvel.
In Noorweë kry jy Potetball. ‘n Aartappel kluitjie wat gemaak word met rou gerasperde aartappels wat gemeng word met gaar fyngemaakte aartappels en meel en met verskillende soorte vleis gevul word en in die aftreksel van die vleis gaargemaak word.

NOORWEEGSE AARTAPPEL KLUITJIES – POTETBALL
Tradisioneel word hierdie kluitjies saam met rooivleis soos takbok of beesvleis, bedien en die kluitjies word saam met die vleis in baie water gekook. Dit word ook met gerookte worsies, bacon of ander rooivleis gestop. Ek het dit egter aangepas deur hoender te gebruik.

  • 1 kg medium grootte aartappels, geskil en gerasper deeglik gedreineer.
  • 2 medium grootte aartappels, geskil, saggekook en fyngemaak.
  • 2 teelepels sout
  • 1 ½ koppies koekmeel
  • 3 hoenderborsies
  • 1 gekapte ui

Stoom of kook die hoender gaar in ongeveer 3 liter water saam met die gekapte ui, met geursel van jou keuse. Ek het 1 eetlepel gedroogde Oreganum en ‘n knippie sout gebruik. Dreineer en laat afkoel. Hou die aftreksel waarin die hoender gekook het.
Meng die gerasperde aartappels, gekookte aartappels, meel en 2 teelepels sout tot ‘n taai deeg en vorm groot balle daarmee. Ongeveer so groot soos die binnekant van jou handpalm. Ontbeen en breek die hoenderborsies in stukkies. Plaas ‘n bietjie gepluisde hoender in elke balletjie en vou behoorlik toe. Bring die hoenderaftreksel tot net onder kookpunt in ‘n groot kastrol. Dit moet baie liggies prut en plaas dan die aartappel balle een vir een in die vloeistof. Bedek en laat so stadig prut vir 1 uur. Indien die water vinnig kook kan die kluitjies uitmekaar val.
Indien jy verkies kan jy groente soos wortels, saam met die kluitjies in die water sit. Omdat die water amper nie kook nie, sal dit ook baie stadig saam met die kluitjies gaar word.
Sous:
Vir ‘n sous het ek ‘n pakkie Rich savoury sous poeier gebruik en dit in die plek van meel gebruik om ‘n gewone witsous te maak. Dit het ek met 2 eetlepels gesmelte botter in ‘n kastrol gemeng en in plaas van melk het ek 300 ml van die vloeistof gebruik waarin die kluitjies gekook het, saam met 2 eetlepels sherry, wat ek daarby gevoeg het om ‘n slap sous te maak.
Die kluitjies het ek saam met die hoenderstukkies en die gekookte wortels op ‘n opdienbak rangskik en die sous bo-oor gegiet.

Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete

Share this article...
Share on Facebook
Facebook
0Pin on Pinterest
Pinterest
0Tweet about this on Twitter
Twitter
Share on LinkedIn
Linkedin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 2 3 4 5